Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die gebed wat miljoene gelowiges geïnspireer het - 2 November 2016

Neville Turley

Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het. 1 Kronieke 4:10

Verskuil in die geslagregister wat die eerste nege hoofstukke van 1 Kronieke beslaan, is daar 'n juweel van 'n gebed, die gebed van Jabes. Hierdie gebed het talle mense oor die eeue heen geïnspireer.

Ons weet nie veel van Jabes nie. Ons weet wel dat sy moeder heel moontlik baie swaar gekry het met sy geboorte en dat sy wou gehad het dat almal dit moes weet, so sy het hom Jabes, wat "met smart" beteken, genoem. Om met so 'n naam vir die res van jou lewe opgesaal te wees, was verseker, veral in sy grootword jare, pynlik. En tog het hy dit oorkom. Die Bybel sê hy het voorrang geniet bo sy broers.

Die gebed van Jabes neem ons terug na die basiese struktuur wat ons moet volg wanneer ons met God praat. Sy vertrekpunt is om vir God se seën te vra. Sonder die seën van God is ons niks nie en ons bestaan is betekenisloos.

God het ons vir 'n rede deel van sy skepping hier op aarde gemaak. Ons is hier om Hom te dien en aan Hom eer en lof te bring.

"En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees." (Genesis 12:2)

In hierdie woorde seën God nie net vir Abram nie. God seën Abram sodat hy op sy beurt vir ander tot seën sal wees. Wanneer ons om God se seën vra, moet ons motivering nie vir eie gewin wees nie, maar om ons in staat te stel om in 'n beter posisie te wees om ander te dien.

Jabes het gebid dat God hom onder sy beskerming sal neem en onheil van hom sal weerhou. Wanneer ons tot die troon van genade nader met 'n nederige en boetvaardige hart, is God se leiding en beskerming daar vir ons om voor te vra. Ons moet dit net doen.

Gebed: Hemelse Vader, hoor ons gebed. Seën ons help ons om te verstaan wat die beste manier is om U te dien. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Previous article: Twee vroedvroue wat in God geglo het - 3 November 2016 Prev Next article: Wandel in die geloof - 1 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.