Twee vroedvroue wat in God geglo het - 3 November 2016
Neville Turley
Die Egiptiese koning het vir die Hebreeuse vroedvroue Sifra en Pua gesê: “As julle 'n Hebreeuse vrou by geboorte bystaan en julle sien by die kraambed dat dit 'n seun is, moet julle hom doodmaak, maar as dit 'n dogter is, mag sy bly lewe.” Eksodus 1:15-17
In daardie dae was die reg van keuse nie in die verwagtende moeders gevestig nie, maar in die koning. 'n Nuwe koning het in Egipte regeer en hy het die Israeliete gehaat. Hulle getalle het grootliks vermeerder en hy was bang dat, sou daar oorlog uitbreek, die Israeliete hulle by die vyand sou skaar. Hy het besluit om slawe van hulle te maak, hulle in arbeidskampe te plaas en hulle onder die toesig van slawemeesters uiters hard te laat werk. En steeds het hulle getalle vermeerder.
Hy het Sifra en Pua beveel om al die seuntjies by geboorte dood te maak. Hulle het egter die God van die Skepping gedien en het daarom nie die koning gehoorsaam nie.
Die konings van Egipte was totalitêre monarge. Faro se woord was wet. Om aan die koning ongehoorsaam te wees, was 'n resep vir moeilikheid. Die ongehoorsaamheid van Sifra en Pua het nie ongesiens verbygegaan nie. Die koning het hulle laat roep om uit te vind hoekom hulle die sentjies laat leef het.
Hulle antwoord was openhartig: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.” (Eksodus 1:19) Die Bybel noem dat God die vroedvroue geseën het en die Israeliete het vermeerder.
Die vroedvroue was vasbeslote om nie toe te laat dat hulle deur die manipulasie van die koning gedwing word om hulle posisie te misbruik nie. Hierin is 'n les vir ons.
Daar mag tye wees wanneer ons moet besluit om aan God gehoorsaam te wees en volgens sy standaarde te leef eerder as om aan die wil van die wêreld toe te gee. Wanneer ons so 'n besluit moet neem, moet ons geloof in God swaarder weeg as enige ander oorwegings, ten spyte van persoonlike opofferings wat so 'n besluit van ons mag vra.
Gebed: Hemelse Vader, ek bid in die Naam van Jesus dat die Heilige Gees aan my die nodige krag sal skenk om onbevrees 'n lewe tot u eer en verheerliking te lei. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.