Dien God met jou hele hart - 4 November 2016
Neville Turley
Nie een van hierdie slegte geslag sal die goeie land sien wat Ek, die Here, hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee nie. Net Kaleb seun van Jefunne sal die land sien, en aan hom en sy nageslag sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, want hy het die Here getrou gevolg. Deuteronomium 1:35-36
Hoekom was Kaleb so spesiaal vir God? Kaleb het die Here met sy hele hart gedien en Hom getrou gevolg.
Moses en die Israeliete was in die wildernis. God het hulle veilig uit Egipte gelei en hulle was op die punt om die Beloofde Land (Kanaän) binne te gaan. Moses het 12 mans uit die stamme van Israel gekies om in Kanaän te gaan spioeneer. Veertig dae later kom die spioene, wat Kaleb en Josua ingesluit het, terug om aan Moses en die volk verslag te doen.
“Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien." (Numeri 13:27-28)
Tien van die spioene was heeltemal daarteen gekant dat die Israeliete Kanaän aanval. Hulle was oortuig dat die stamme wat daar woon hulle sou uitwis. Hulle verslag het die Israeliete baie onrustig gestem, die belofte van die Here aan hulle voorvaders heeltemal vergete. Kaleb, met die ondersteuning van Josua, het probeer om met woorde van geloof en dapperheid hulle vrese te besweer: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” (Numeri 13:30)
Die ander spioene het nie saamgestem nie. “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.” (Numeri 13:30) Die Israeliete was beangs en hulle het die Here vir die penarie blameer. Hulle het die dag wat hulle Egipte verlaat het, vervloek en gedreig om Moses, Josua en Kaleb te stenig.
Die Here was woedend oor hierdie ondankbaarheid en omdat die volk Hom verwerp het, maar Moses het by Hom gepleit om die sondes van die volk te vergewe. God het na Moses geluister en sondes vergewe, maar nogtans het Hy hulle swaar gestraf..
Vir elke dag wat die spioene in Kanaän was, moes die Israeliete 'n jaar lank in die woestyn rondtrek. Eers nadat elke volwasse Israeliet wat uit Egipte gevlug het, gesterf het, is die Israeliete toegelaat om die Beloofde Land binne te gaan. Kaleb, wat 'n ander gesindheid gehad het, is egter gespaar en beloon.
Kaleb se geloof en getrouheid leer ons dat ons altyd gereed moet wees om standpunt vir die Here in te neem. Ons sal nie alleen wees nie, die Heilige Gees sal aan ons die krag skenk om die Here met ons hele hart te volg.
Gebed: Almagtige God, gee dat die Heilige Gees 'n gehoorsame gees in my sal kweek. In Jesus se Naam vra ek dit. Amen
Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.