Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Jetro se wyse raad - 7 November 2016

Neville Turley

Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.  Spreuke 13:10

Raad is iets wat darem nog gratis gegee word in hierdie wêreld. Volke is altyd gretig om ander volke te vertel wat hulle moet doen. Met individue is dit dieselfde.

Ons word voortdurend vertel wat ons moet doen of nie moet doen nie. Hoe ons reageer op sulke raad hang af of ons dink dat dit op ons van toepassing is, aldan nie. Jetro, ook bekend as Reüel, was Moses se skoonpa. Hy was 'n priester en leier van Midian in die woestyn. Hy was 'n wyse man en gasvry. Jetro het vir Moses skuiling aangebied nadat hy uit Egipte moes vlug toe hy die Egiptenaar doodgeslaan het.

Moses en Jetro het goed klaargekom. Jare later, na die uittog uit Egipte bevind Moses hom weer in die Sinaiwoestyn, nie as 'n vlugteling nie, maar as 'n leier van sy mense, Jetro het Moses besoek. Moses was baie bly en het hom verwelkom.

Jetro was bly om te hoor van al die goeie dinge wat die Here vir Israel gedoen het toe Hy hulle uit Egipte se mag bevry het. "Nou besef ek dat die Here groter is as enige ander god, want toe die Egiptenaars vermetel teen die volk van die Here opgetree het, het Hy hulle uit Egipte se mag bevry.” (Eksodus 18:11)

Moses was 'n baie toegewyde en betrokke leier. Jetro het egter gesien dat Moses van die oggend tot die aand na die volk se geskille geluister het. Hy het Moses hieroor aangespreek: “Jy maak nie reg nie. … Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie." (Eksodus 18:17-18)

Jetro het toe vir Moses goeie raad gegee oor hoe belangrik dit is om die werk aan bekwame persone te delegeer. Dit sou Moses in staat stel om die volk se verteenwoordiger by God te wees en die meer komplekse sake aan te hoor.

Dit was uitstekende raad en dit sou Moses se las ligter maak. "Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het." (Eksodus 18:24)

Dit is vandag steeds uitstekende raad vir uitvoerende hoofde, bestuurders, spanleiers, die hoofde van gesinne, ens. Geen een persoon kan totale verantwoordelikheid neem vir almal waaroor hy beheer het nie.

Mense wat oor ander aangestel is, het tyd vir hulleself nodig om op belangrike sake te kan fokus. Hulle moet Jetro se advies in ag neem en delegeer.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om deur die inspirasie van die Heilige Gees tot u eer en verheerliking te leef. In Jesus se Naam vra ons dit. Amen

Previous article: Hoekom is Elisama en Baruk vir ons belangrik? - 8 November 2016 Prev Next article: Dien God met jou hele hart - 4 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.