Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoekom is Elisama en Baruk vir ons belangrik? - 8 November 2016

Neville Turley

Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is. Psalm 119:130

Sommige persoonlikhede in die Bybel is onmiddellik vir ons bekend. Ander is minder bekend. Elisama en Baruk val in laasgenoemde kategorie. Baruk was Jeremia se sekretaris en Elisama was die staatsekretaris vir die leiers van Juda in die tyd van koning Jojakim. In hierdie hoedanigheid was hy dan ook die kurator van die boekrol wat Jeremia se profesieë bevat het en het dit in sy kantoor bewaar voordat dit aan die koning voorgelees is. (Jeremia 36:20-21)

Jeremia was 'n belangrike profeet. Sy boek in die Bybel bestaan uit 52 hoofstukke en die boek wat daarop volg, Klaagliedere, word volgens beide die Joodse en Christelike tradisies ook aan hom toegeskryf.

Jeremia was 'n eensame, swaarmoedige en sensitiewe persoon wat baie swaargekry het omdat hy getrou God se oordeel oor die volk verkondig het, as hulle nie berou toon nie.

Toe koning Jojakim hoor wat Jeremia vir Baruk oor die ryk van die koning dikteer het, was hy kwaad. Hy het beveel dat die boekrol na hom gebring en vir hom voorgelees moet word. Die koning het egter geen berou getoon nie en elke keer as drie of vier kolomme gelees is, het die koning dit afgesny en in 'n kolebak gegooi totdat die hele boekrol verbrand is.

Dit was die eerste poging wat vir ons opgeteken is van 'n poging om die Bybel te sensor. Deur die eeue het het mense probeer om die Bybel af te kraak, heeltemal te vernietig of te verbrand, maar  sonder sukses.

Die wonderlikste ding oor Elisama en Baruk is egter dat ons vandag bewyse het dat hulle nie net in die verbeelding van een van die skrywers van die Bybel geleef het nie. In 1976 is 'n hele aantal kleiseëls net buite Jerusalem opgegrawe. Elke seël het die naam van 'n individu bevat en dit het as 'n amptelike handtekening gedien. Die seël is op 'n dokument afgedruk om die persoon wat dit gestuur het, te identifiseer.

Op een seël staan daar: "Elisama, dienskneg van die koning", en op 'n ander een "Baruk, seun van Nerija." Historiese bewyse dat Elisama en Baruk in die tyd van koning Jojakim geleef het.

Elisama en Baruk is vir ons belangrik aangesien die bewys van hulle bestaan vir ons bevestig dat die Bybel tot in die fynste detail waar is.

Gebed: Almagtige God, dankie vir u woord. Gee dat die Heilige Gees ons sal lei om die boodskap van die Skrif beter te verstaan en ons nader aan U te bring. Amen

Previous article: Die heiden wat van melaatsheid genees is en toe geglo het - 9 November 2016 Prev Next article: Jetro se wyse raad - 7 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.