Gierigheid kan tot ons ondergang lei - 10 November 2016
Neville Turley
“Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want 'n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.” Lukas 12:15
Gehasi is nou nie juis die eerste persoon waaraan 'n mens dink as jy aan mense in die Bybel dink nie. Gehasi is 'n voorbeeld van hoe ons nie moet wees nie.
As Elisa se persoonlike bediende het hy nogal 'n invloedryke posisie beklee. Ongelukkig was hy gierig en korrup en het hy sy posisie misbruik. Hy het gedink Elisa was verkeerd om nie betaling van Naäman te aanvaar nadat hy (Elisa) hom van melaatsheid genees het nie. Hy het toe besluit om agter Naäman aan te hardloop en om iets vir homself van Naäman te aanvaar.
Naäman was onderweg huis toe, toe hy sien Gehasi hardloop agter sy wa aan. Hy het stilgehou en afgeklim om hom te groet: " Wat is verkeerd?" het hy gevra. (2 Konings 5:21)
Gehasi het gantwoord dat niks verkeerd was nie, maar dat sy baas hom gestuur het. En toe vertel hy gladweg vir Naäman 'n storie dat twee jongmanne van die profetegemeenskap onverwags by Elisa opgedaag het en dat hulle vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere benodig. Naäman wou so graag vir Elisa help. “Wees so vriendelik om ag en sestig kilogram te aanvaar,” sê Naäman.
Naäman het die silwer in twee geldsakke toegebind saam met die twee stelle klere. Hy het selfs twee van sy slawe gegee om dit voor Gehasi uit te dra. Naby die huis het Gehasi die twee slawe teruggestuur en die twee sakke versteek.
Toe het hy sy baas gaan groet en Elisa het vir hom gevra waar hy heen was: "Ek was nêrens heen nie," lieg Gehasi. God het egter die waarheid aan Elisa geopenbaar. Elisa het Gehasi vervloek: "Die melaatsheid waarmee Naäman aangetas was, sal vir altyd aan jou en jou nageslag sit.” Toe hy van Elisa af weggaan, was hy klaar melaats, wit soos sneeu." (2 Konings 5:27)
Daar word gereeld in die media berig oor hoe gierigheid tot 'n persoon se ondergang gelei het, Ongelukkig is dit nie net die skuldige wat ly nie, maar die slagoffer van sy gierigheid is dikwels geruïneer. So 'n persoon se familie moet ook dikwels die gevolge van sy dade dra. Ons moet ons Verlosser se raad volg en op ons hoede wees vir alle vorme van gierigheid.
Gebed: Hemelse Vader, dit is deel van die menslike natuur om te wil hê wat ander het. Gee dat die Heilige Gees ons in staat sal stel om die sonde van gierigheid te vermy. In Jesus se Naam. Amen