Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Laat ons nooit vergeet nie - 11 November 2016

Neville Turley

Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.  Efesiërs 6:13

In baie wêrelddele sal mense vandag om 11:00 twee minute stilte handhaaf. Met hierdie blyk van respek word die einde van die eerste Wêreldoorlog, een van die bloedigste oorloë nog, herdenk. Teen die tyd dat gevegte gestaak is, het reeds sowat 38 miljoen soldate en burgerlikes in hierdie oorlog gesterf.

Dit is 'n geskikte dag om op Urija, die Hetiet, te fokus. Urija was een van 30 dapper manne wat onder bevel van Joab, koning Dawid se leër in die oorlog teen die Ammoniete aangevoer het.

Terwyl Urija weg was om te gaan veg, het Dawid 'n verhouding met Urija se vrou, Batseba, gehad en sy het swanger geraak. Dawid was angstig want hy het geweet wat die gevolge van sy daad sou wees (egbreuk is met die dood gestraf – Levitikus 20:10) Dawid het toe vir Joab laat weet om Urija terug Jerusalem toe te stuur. Tot Dawid se ontsteltenis het die toegewyde Urija egter toe hy terug in Jerusalem was, geweier om by Batseba te slaap. "Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Joab sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie!” (2 Samuel 11:11)

Dawid het sy bes probeer om Urija van plan te laat verander. Hy het hom selfs dronk gemaak en toe huis toe gestuur. Urija het egter nie gegaan nie en het by die slawe van die koning gaan slaap.

Toe Dawid besef dat sy plan nie gewerk het nie, het hy Joab beveel om Urija op die voorpunt van die geveg te plaas. Joab het gehoorsaam en Urija is doodgemaak.

Urija was 'n beginselvaste soldaat met prioriteite wat hy bo sy persoonlike begeertes gestel het. Laat ons nooit vergeet dat ons ook, soos Urija, deel van 'n leër is nie. Ons verantwoordelikheid is om die volle wapenrusting van God aan te trek (Efesiërs 6:8) en die Here Jesus wat sy lewe vir ons gegee het, te dien. Mag die Here aan ons die dissipline skenk om dit te doen.

Gebed: Genadige God, skenk aan ons vrede in ons land en vir ons mense. Help ons om die bose te oorkom, sodat ons U ten volle kan dien. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Previous article: Jefta die banneling wat sy mense gered het - 14 November 2016 Prev Next article: Gierigheid kan tot ons ondergang lei - 10 November 2016 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.