Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Koning Herodes - 14 Desember 2016
Xanthe Hancox
Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: “'n Gekerm word op Rama gehoor, 'n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.” Matteus 2:16-18
Ek het nog altyd hierdie moord van die seuntjies jonger as twee jaar as een van die mees ontstellende gebeure in die Bybel ervaar. Wat 'n soort koning beveel 'n slagting van die onskuldiges?
Daar bestaan egter genoeg historiese bewyse van Herodes se karakter wat 'n mens laat besef dit is presies die soort regeerder wat hy was. Hy het op 'n stadium 'n swaer, drie van sy seuns en een van sy vrouens laat doodmaak omdat hy vermoed het dat hulle 'n komplot teen hom smee. Daar word ook gesê dat keiser Augustus op 'n keer glo gesê het: "Dit is beter om Herodes se vark te wees as sy seun".
So aaklig as wat dit ook mag wees, Matteus vertel ons hierdie verhaal om ons te herinner aan die geestelike konflik wat voortdurend om ons woed. Dit is 'n bewys dat baie mense in die oorlog wat die duiwel teen God voer, sal lei, en dit herinner ons ook daaraan dat God nie beloof het om ons van die duiwel se boosheid in hierdie wêreld te spaar nie. Paulus sê: "Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word. Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei." (2 Timoteus 3:12)
Laat God ons dus aan ons eie lot oor? Nee, God bly nie net stil, of is te besig of gee nie om nie. Die vrede van God wat ons in sy Seun Jesus Christus ontvang, help ons om die chaos van ons huidige wêreld te verduur. God se vrede is nie afwesig in konflik nie, dit is die antwoord vir enige konflik. Onthou Jesus se woorde toe Hy gesê het: "Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” (Johannes 16:33)
Gebed: Vader, dankie dat U aan ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan skenk, en dat dit ons help om 'n wêreld met al sy boosheid te kan hanteer. Help ons om te onthou dat daar niks in hierdie wêreld is wat U nie reeds oorwin het nie. Amen