Mense betrokke by die geboorte van Jesus: Jesus - 15 Desember 2016
Xanthe Hancox
Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom. Lukas 2:39-40
Dit is net reg dat ons hierdie reeks oor mense wat betrokke was by die geboorte van Jesus afsluit met die Persoon waaroor alles gaan – met Jesus self.
Met die eerste oogopslag lyk dit nie of vers 40 veel sê nie – net dat Jesus gegroei en sterk geword het. Daardie paar woorde beskryf egter net hoe menslik Jesus was. Dit is een ding om te sê dat Hy gebore is soos ons almal gebore word, maar heeltemal iets anders om te bewys dat Hy soos ons regdeur sy lewe hier op aarde, volkome mens was, iemand wat soos enige ander seuntjie gegroei en sterk geword het.
Die meeste van ons verstaan dat Jesus fisies moes groei, dat Hy sterker en ouer geword het, maar ons vind die idee dat hy geestelik en verstandelik moes groei, moeilik om te begryp. God ontwikkel nie geestelik nie. En aangesien Jesus ook God was, hoe kon Hy geestelik ontwikkel? Jesus het ook in wysheid gegroei. Dit is ook 'n uitdagende gedagte. Jesus is God, en God weet alles. Hoe kon Jesus leer as Hy God was?
Jesus, alhoewel Hy die Seun van God was, was ook volkome mens. So Hy moes die Bybel leer en teologie bestudeer, Hy moes leer om gehoorsaam te wees netsoos ons, Jesus was volkome mens, netsoos ons, en 'n groot deel van menswees is die leerproses. Hy het geleer eet, praat, lees en skryf, en om sy ouers te gehoorsaam.
Die volkome menswees van die Seun van God is die wonderlikste en mees misterieuse waarheid in die geskiedenis van die wêreld. Jesus het 'n menslike liggaam, hart, verstand en wil gehad – en tog het dit geensins Sy goddelikheid ondermyn nie. Hy het netsoos ons ontwikkel. Hy het die lewe netsoos ons ervaar. Hy is in 'n wêreld vol wrede politici gebore, 'n wêreld waar mense in armoede geleef het en waar gelowige mense bespot is. Hy het volkome mens geword sodat Hy ons volkome kan red, Hy is waarlik Immanuel, God met ons.
Geseënde Kersfees vir jou en jou geliefdes. Vers-'n-Dag is weer op 16 Januarie terug.
Gebed: Here, dankie dat U gekies het om as een van ons tussen ons te kom woon. Dankie vir u genade wat ons as u kinders daagliks ervaar. Amen