Alles nuut - 16 Januarie 2017
Xanthe Hancox
Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 2 Korintiërs 5:17
Die nuwe jaar is reeds goed op dreef en ek is al hartlik siek en sat van al die fiksheidsadvertensies en al my vriende se selfvoldane kommentaar op sosiale media oor hulle banting diëte. Oral in die markplek word ons gebombardeer met advertensies en artikels wat ons nuwejaarsvoornemens aanspreek – word fiks, maak jou kaste leeg, vind ware liefde, hou op rook, kry jou loopbaan op koers, en so hou die lys aan en aan. Maar meeste van die tyd hou ons nie juis by enige van ons voornemens nie. Ek het op 'n keer besluit ek gaan nie meer koffie drink nie en dit was die ergste halfuur van my lewe.
Paulus som die waarheid oor die gevalle mensdom so op: "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon." Romeine 7:15-20
Ons het gewoonlik die beste voornemens, net soos daardie nuwejaarsvoornemens wat ons 'n paar weke gelede gemaak het en waarvan die meeste van ons al vergeet het. Maar dit is slegs deur die genade van God dat ons in staat is om enigsins iets te kan doen, om nie eers van iets goed te praat nie. "Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee." (Filippense 4:13) Dink 'n bietjie hieroor na.
Ware verandering begin met nuwe lewe, nie net 'n nuwe blaadjie aan die begin van 'n nuwe jaar nie. 'n Ware lewe, 'n beter lewe, 'n wonderlike lewe kan ons net in Christus vind. Wanneer jy Christus aanneem, ontvang jy 'n nuwe lewe in Hom. Verder, ware verandering is 'n proses, nie 'n bestemming nie. Jesus maak ons voortdurend nuut. Ons moet net eenvoudig alles aan Hom oorlaat. Soos die Engelse gesegde lui: "Let go and let God.
Gebed: Almagtige God, ek eer U en wil in die jaar wat voorlê U loof met die keuses wat ek maak, die woorde wat ek praat, en deur alles wat ek doen. Ek bid dat U elke dag sal voortgaan om my na u wil te vorm en help my om gehoorsaam te wees aan u Woord. Amen