Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Moenie moed verloor nie - 25 Januarie 2017

Xanthe Hancox

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.  2 Korintiërs 4:16-18

Ons begin reeds by geboorte sterf. Nou nie juis die aangenaamste gedagte vir 'n Woensdag nie, maar dit is waar. Maak nie saak hoe goed jy voel nie, ons almal is besig om fisies weg te kwyn.

Paulus het homself egter nie oorgegee aan sy lyding en die naderende dood nie, en ons moet ook nie. Hy is nie fatalisties nie, hy herinner ons net daaraan dat vir ons as gelowiges in Jesus Christus is daar iets baie groter besig om te gebeur.

God vra nie dat jy pyn moet hanteer asof dit 'n plesier is, of hartseer asof dit blydskap is nie. Hy vra egter dat jy jou aardse swaarkry in die lig van hemelse heerlikheid moet sien sodat dit jou kan versterk om jou lyding te verduur.

Wanneer ons ons probleme in die lig van die ewigheid beskou, sien ons dit vir wat dit werklik is. Ons liggame mag miskien besig wees om te vergaan, maar innerlik is ons geestelike krag besig om toe te neem.

Let op die verband tussen vers 16 en vers 18, die innerlike verandering te midde van uiterlike verganklikheid gebeur nie outomaties nie. Met ander woorde, die vernuwing wat Paulus hier beskryf, gebeur slegs wanneer ons kan sê "ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig."

As ons ons geloofsoog gerig hou op die hoop van die heerlikheid wat vir ons wag, sal God ons innerlik vernuwe ten spyte daarvan dat ons uiterlike besig is om te vergaan. Let daarop dat Paulus nie hier verwys na 'n vlietende oomblik of 'n verbygaande gedagte oor ewige heerlikheid nie; Paulus praat oor hoe ons aandagtig en naarstiglik moet konsentreer op die onskatbare hemelse seëninge.

Paulus waarsku ons dat ons nie op dit wat hierdie wêreld ons bied, moet konsentreer nie, maar ons hoop en vertroue op die ewige waardes van God se koninkryk moet rig.

Moenie moed verloor nie. Rig jou verstand en jou geloofsoog op die onsigbare wat ewig is, op dit wat Christus vir jou verdien het.

Gebed: Vader, dankie vir hierdie groot waarheid. Dankie vir die voorreg om in die lig van die ewigheid te kan leef. Dankie vir u reddende genade wat ons dag na dag nuut maak.  Amen

Previous article: Slegs Jesus - 26 Januarie 2016 Prev Next article: Skatte in kleipotte - 24 Januarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.