Maak oop julle harte - 27 Januarie 2017
Xanthe Hancox
Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop! 2 Korintiërs 6:11-13
Paulus het die inwoners van Korinte liefgehad, en hy het sy liefde op verskillende maniere bewys. Hy het dit, soos hy hier sê, op twee spesiale maniere bewys. Eerstens deur openhartig met hulle te praat. Dit beteken hy het met hulle gekommunikeer en ook vir hulle vertel wat in sy eie lewe gebeur het. Hy het sy gevoelens, sy stryd, sy mislukkings, die druk waaronder hy was, en sy probleme met hulle gedeel, en vir hulle vertel hoe hy alles hanteer het. Dit is altyd 'n bewys van liefde. Om jou hart vir ander oop te maak is om hulle lief te hê.
Baie van ons ondervind egter die teenoorgestelde, self in ons gemeentes. Mense dink dikwels dit is beter om jou gevoelens en dit wat in jou lewe gebeur vir jouself te hou, om privaat te wees, 'n geslote boek. Ons wêreld leer ons om voor te gee totdat jy bereik het wat jy graag wil hê, maar om seker te maak niemand weet wat binne-in jou aangaan nie. Om 'n Christen te wees beteken egter om die teenoorgestelde te doen en openhartig te praat.
Die tweede manier wat Paulus sy liefde aan die Korintiërs bewys het, was deur sy hart wyd oop te maak. Daar was geen voortrekkery nie, hy het die hele gemeente ingesluit. Hy het nie sy hart net vir die oulike, gawe, mense tussen hulle oopgemaak nie. Hy het hulle almal liefgehad, die moeilikes onder hulle, diegene met probleme en selfs die hardekoppe met wie dit nie maklik was om mee klaar te kom nie. Paulus het geen voorwaardes gestel voordat hy iemand in die gemeente liefgehad het nie. Hy het almal aanvaar vir wie hulle was. Alhoewel hy hulle probleme, swakhede, hartseer, mislukkings en weerstand geken het, het hy hulle nogtans liefgehad.
Die probleem was dat hulle hom nie ook liefgehad het nie. Dit is ongelukkig vandag dikwels die probleem in gemeentes, tussen individue, in gesinne, families en in huwelike. Ons verstaan nie die wedersydse aard van liefde nie. Liefde is 'n tweerigting straat. Liefde vra 'n reaksie. Paulus het hulle liefgehad, maar hulle het hom nie ook liefgehad nie. Hulle was geslote, onsimpatiek en terughoudend teenoor hom. Hulle het hulle liefde van hom weerhou, vasgevang in hulle selfsugtige lewens.
Dit is hoekom Paulus by die Korintiërs pleit om hulle harte wyd oop te maak.
Dit is vir baie van ons moeilik om openhartig te praat. Dit laat ons weerloos voel. Uit hierdie les van Paulus leer ons om openhartig met almal te wees en so deur die krag van Christus ons liefde vir ander en vir Hom te bewys.
Gebed: Vader, help my om my hart wyd oop te maak, ook vir diegene wat in liefde na my uitreik. Dankie vir die liefde wat U elke dag aan my bewys. Amen