Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

'n Woord van vrede - 31 Januarie 2017

Xanthe Hancox

Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees!  2 Korintiërs 13:11

Paulus se laaste woorde aan die Korintiërs is 'n woord van vrede. Hy kyk verby al die verdeeldheid in Korinte na die basiese eensgesindheid van die kerk. God het daardie eenheid geskep, en dit bestaan al is daar onenigheid, twis, jaloesie en verdeeldheid in die gemeente. Christene behoort aan mekaar. Hulle is deel van God se familie, en hulle behoort ook so op te tree, sê Paulus aan die Korinte..

Paulus vra nog iets van hierdie Christene. Verander julle manier van doen. As Christus in julle is, kan julle dit doen. Die punt is dat ons nie kan voortgaan om soos almal om ons te leef as Jesus in ons is nie. Jesus wat in ons is, is die fundamentele rede hoekom Christene anders moet wees. Ons moet vriendelik, liefdevol, openhartig en vergewensgesind wees – nie veroordelend, geslote en bitter nie. Dit geld ons privaatlewens, sowel as ons openbare lewe by die werk, die kerk of waar ons ookal in ons gemeenskappe betrokke is. Ons is anders, want Christus is in ons.

Die geskiedenis vertel nie vir ons wat met die kerk in Korinte gebeur het nie, of hulle herstel het en gehoorsaam aan die Woord was of nie. Maar Paulus het vir ons 'n ongelooflike getuienis nagelaat oor hoe ons as Christene in 'n sekulêre wêreld moet lyk en werk. Ons word geroep om vandag steeds te leef soos hy aan die Christene in Korinte geskryf het. Ons moet besef dat wanneer Jesus Christus in jou is, is jy nie meer dieselfde mens nie.

Vanjaar, wanneer jy gekonfronteer word met onenigheid, twis en jaloesie, maak dit jou nommer een voorneme om jou geloofsoog op Jesus gerig te hou en daarna te streef om vriendelik, liefdevol, openhartig en vergewensgesind teenoor almal te wees.

Gebed; Here Jesus, dankie dat U in my is. U stuur my uit in hierdie wêreld. Help my om te leef soos iemand in wie Jesus woon. Amen

 

Previous article: Dag 1: Ek is. . . - 1 Februarie 2017 Prev Next article: 'n Doring in die vlees - 30 Januarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.