Dag 1: Ek is. . . - 1 Februarie 2017
Reeks: Ek is
Benescke Janse van Rensburg
Dit was 'n bloedige warm dag in die woestyn waar die skaapwagters hulle skape opgepas het. Die brandende bos ’n ent weg het Moses se aandag getrek. Soos hy nader stap om te gaan ondersoek instel, het ’n stem meteens na hom geroep: "Moses! Moses!" Geskok, met ’n hart wat 'n slag mis, het hy 'n oomblik gehuiwer voordat hy antwoord: "Ja, dit is ek..." Die stem het verder gepraat: "Moenie naderkom nie. Trek jou skoene uit, want jy staan op heilige grond. . ."
"Wie is ek, dat ek na Farao kan gaan om die Israeliete te bevry?" het Moses bewerig gevra nadat God hom die opdrag gegee het om die Israeliete uit Egipte te gaan bevry. Moses het die koninklike huis geken. Hy het immers vir jare daar gewoon en daarom geweet hoe onmoontlik dit vir hom as "gewone man" sou wees om die Farao te oortuig om die Israeliete te laat trek. In Eksodus 3:12 bemoedig God hom: "Ek sal met jou wees. . ." Steeds onseker het hy gevra: "Maar wie moet ek sê het my gestuur?" Hierop was God se antwoord in vers 14: "EK IS WAT EK IS. . . So moet jy vir die Israeliete antwoord: EK IS het my na julle gestuur."
Omdat Moses die opdrag gehoorsaam het al was hy bang, het hy beleef hoe EK IS hom nooit in die steek gelaat het nie. EK IS was by hom met die onderhandeling met Farao. Ook was dit EK IS wat vir die Israeliete ’n pad deur die Rooi See gemaak het, die Tien Gebooie by die Sinaiberg gegee het, die manna en kwartels as kos voorsien het in die woestyn, die mure van Jerigo laat val het en die Israeliete in die beloofde land ingelei het. Vandag nog sorg EK IS vir die Israeliete - en ook vir elkeen van ons wat Hom aanbid en dien.
Maar wie is EK IS vir jou? Ken jy Hom persoonlik of weet jy net van Hom? Hoor jy sy stem as Hy met jou praat? Om Hom te ken is die kern van ons geloofslewe en wanneer ons begin om sy aangesig te soek, begin ons besef hoe betrokke Hy werklik by die details in ons lewens is. Mag ons vandag ons oë op Hom hou met die wete dat Hy ons ook nie in die steek sal laat nie. Sy belofte staan vas: "Ek sal by jou wees." Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U nooit verander nie. Ek loof en prys en dank U vir die voorreg dat ek aan U mag behoort. Help my asseblief in die maand wat voorlê om U selfs meer intiem te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Opdrag vir die dag: In die maand wat voorlê wil ek hê ons moet fokus op wie EK IS is. Neem vandag ’n pen en papier en skryf die eienskappe van God neer wat vir jou uitstaan. Jy kan dit aanvul soos die maand aanstap. Dank Hom dat Hy, die EK IS nooit verander nie.
Terugvoer: Om saam te gesels of terugvoer te gee oor die reeks, kan jy epos na