Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DAG 2: EK IS . . . JOU HELPER - 2 Februarie 2017

Deur Benescke Janse van Rensburg

Met die skool se interhuis-atletiekbyeenkoms verlede Vrydag op Kathu in die Noord-Kaap, was die opgewondenheid tasbaar met die aanbreek van die 60 meter item vir die kleintjies. Vir 'n klomp ouers was dit hulle kindertjies se heel eerste atletiek deelname.

Net voor die skoot sou klap, het die afsitter egter vir Riaan van Straten, hoof van sport by die skool wat ook 'n voormalige Griekwa-, Arende- en Puma-rugbyspeler is, nader geroep omdat hy "'n klein probleempie" gehad het. By die wegspringpunt het die 5-jarige dogtertjie, Angie Motswamere in 'n rolstoel gesit wat ook aan die wedloop wou deelneem. Sy het iemand nodig gehad wat haar moes help. Eers toe Angie opstaan, het Riaan besef dat sy nie verlam is nie, maar sonder die onderste helfte van haar bene gebore is.  

Sonder om twee keer te dink, het Riaan vir Angie op sy rug getel en ná die skoot afgevuur is met haar, al giggelend, saam met die ander dogtertjies tot by die eindstreep gehardloop. Dit was 'n oomblik wat die skare op hulle voete (en ook in trane) gehad het. By die eindpunt het Riaan vir Angie neergesit met 'n glimlag van oor tot oor. Vir haar was dit 'n droom wat waargeword het - 'n wonderwerk was sy vir ewig sal onthou.

In Psalm 54:6 lees ons: "Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun." (1953-hersiening). In Psalm 121:1-2 staan geskryf: "Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het." En in Hebreërs 13:6 lees ons: "Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?"

Uitdagings in ons werkplek, finansies, verhoudings, gesondheid of wanneer ons seergekry het deur mense wat veronderstel was om ons lief te he, beroof dit ons maklik van ons vreugde en lewenslus. Dit laat ons kompleet voel soos wat Angie moes voel by die beginpunt van die wedloop. Sy wou hardloop, maar het nie geweet hoe sy ooit die eindstreep sou haal nie.

Wanneer ons egter ons geloof en vertroue in EK IS, ons Helper plaas, beheer aan Hom oorgee en vertrou dat Hy weet wat in ons toekoms lê, beleef ons keer op keer hoe Hy ons optel en neem tot op 'n plek wat ons gedink het onmoontlik is. By Hom is daar immers geen beperkinge nie! Kom ons gee Hom 'n kans. Hy weet wat die beste vir ons is. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my Helper is. Ek bring (noem jou situasie of die uitdaging) na U toe. Help my om in geloof volkome beheer aan U oor te gee en nie verder te stres oor die dag van môre nie met die wete dat U reeds daar is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Klik hier vir 'n foto van Riaan met Angie op sy rug tydens die wedloop: www.benescke.co.za

Opdrag vir die dag: Het jy al beleef hoe EK IS vir jou 'n Helper was in die verlede? Skryf dit neer. As jy gemaklik voel, deel gerus jou getuienis met ons by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Terugvoer: Om saam te gesels of terugvoer te gee oor die reeks, kan jy epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke

Previous article: Dag 3: EK IS... ANTWOORD IN OORVLOED - 3 Februarie 2017 Prev Next article: Dag 1: Ek is. . . - 1 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.