Dag 3: EK IS... ANTWOORD IN OORVLOED - 3 Februarie 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
Die huidige droogte in ons land word gereken as die ergste in 150 jaar. Dit raak ons almal op verskeie maniere. Droogtetye maak ons opnuut afhanklik van EK IS omdat ons Hom op 'n nuwe manier ontmoet. Hier is 'n getuienis van 'n leser uit Klerksdorp:
Karina: "Ons woon in Klerksdorp. Soos vele dorpe het ons die droogte gesien met die dorp se dam wat dag vir dag leeggeloop en verdor het. Van die boere rondom die dam kon nie meer besproei nie. Ons Bybelskoolleier het ervaar dat God hom lei om tien mense bymekaar te kry en by die dam te gaan nagmaal hou. Ons moes bid vir reën, die opvulling van die dam en ook vir geestelike reën en herlewing in ons dorp en gemeenskap. Ná die eerste reën, moes ons vir 10 dae teruggaan om by voorbaat te dank vir wat Hy besig was om te doen. Ons het dit gedoen.
Die dam was egter nie dadelik vol nie. Inteendeel, ons sou telkens daar verbyry en sien hoe die damvlakke aanhou daal. Dit het my soms laat wonder wanneer God dan gaan antwoord. In geloof het ons egter aangehou bid en vertrou dat Hy in beheer was.
Gisteraand was ons weer by die dam. Dié keer om God te dank. Hy het 'n wonderwerk gedoen en die reën waarvoor ons gebid het, het geval. Die dam is nie net vol nie; dit loop oor. Dit is 105% vol! Alle eer aan Hom."
In 2 Kronieke 7:13-15 lees ons: "As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie . . . en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek." (1953-hersiening). Ook in Psalm 68 lees ons dat daar reën is in die teenwoordigheid van God. In vers 10 staan geskryf: "U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God, U het u verdorde land weer lewe gegee."
Net God gee reën - ook geestelike reën. As daar 'n effense vertraging in die beantwoording van ons gebede is, is dit meestal omdat Hy besig is om ons voor te berei. Soms moet die "gemors" hoër op in die rivier eers verwyder word of beskadigde damwalle verstrek word om die oorvloedige water wat op pad is te kan dra. Hierdie "gemors" kan onbelyde sonde wees, 'n situasie waar ons om vergifnis moet gaan vra of dalk net omdat ons te onafhanklik van Hom begin leef het. Soms is die droogtetyd ook daar om ons karakter te vorm en ons nader aan Hom te bring.
Mag ons aanhou om ons oë op Hom te hou in die droogtetye - al voel dit oorweldigend. Mag ons met 'n afwagting bid en Hom by voorbaat dank vir wat Hy besig is om te doen - al sien ons nog nie fisies die deurbrake nie. En mag ons aanhou getuig oor sy grootheid wanneer daardie deurbrake kom. EK IS antwoord immers altyd - en oortref meestal ons verwagting! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U elke gebed wat ons bid hoor en op U tyd verhoor. Help my asseblief om nie droogtetye gering te ag nie, maar om U beter te leer ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Vir 'n foto van die dam in Klerksdorp voor en ná die gebede, besoek, www.benescke.co.za of die Fbook bladsy, Stories van hoop.
- In die Wes-Kaap bly die damvlakke steeds daal. Eerskomende Sondag is daar 'n Biddag vir Reën in Kaapstad. 14:30 vir 15:00 by die His People sentrum in Goodwood. Geen kaartjies is nodig nie. Plek vir 3000 mense.
Opdrag vir die dag: Bid net vir 5-10 minute lank vandag spesifiek vir reën om te val in ons land. Kom ons bid ook vir geestelike reën in die vorm van herlewing en dat mense wat nog nie 'n verhouding met EK IS het nie, aangeraak sal word en tot redding sal kom.
Terugvoer: Om saam te gesels of terugvoer te gee oor die reeks, kan jy epos na