Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 4: EK IS ... kyk binne-in - 6 Februarie 2017

Benescke Janse van Rensburg

Gedurende verlede week het die polisie in Port Elizabeth op inligting gereageer en beslag gelê op 'n skeepsvraghouer vol verfdromme. In hulle ondersoek is bevind dat elke derde drom van die splinternuwe verfdromme met duur drank gevul was. Die res was afgewaterde verf. Die 1940 liter onwettige drank is gelykstaande aan 2,500 bottels whiskey, wat sowat R1 miljoen werd is. Dit sou glo vir dubbeld die prys in Saoedi-Arabië verkoop kon word.

Op die oog af het die verfdromme almal eenders gelyk. Eers toe die deksel opgelig word, is ontdek dat die inhoud verskil het. Dieselfde geld vir ons as gelowiges. Op 'n Sondag in die kerk mag dit vir die wêreld lyk asof ons almal diep gelowig is. EK IS lig egter die deksel en kyk wat binne-in ons harte aangaan.

In Jeremia 17:10 staan geskryf: "Ek, die HERE, deursoek die hart . . ." Ook in Psalm 139:1,23-24 lees ons: "Here, U het tot diep in my gekyk, U ken my baie goed. . . O God, U moet diep in my kyk, U moet weet wat binne-in my hart is, U moet my toets, U moet weet wat ek dink. En U moet help dat ek nie so lewe dat ek seerkry nie, U moet my lei op die pad na U toe." (Die Bybel vir Almal). En in Psalm 44:21 herinner die Psalmdigter ons dat God die geheime van ons harte ken.

Lééf jy agter toe deure wie jy voor ander verkondig? Wanneer EK IS ons deksels lig, sodat sy lig in ons lewens kan inskyn, is dit nooit om ons van Hom af weg te dryf nie, maar eerder om ons vry te maak omdat Hy weet dat geheime 'n skuldgevoel by ons skep en dat dit juis daardie skuldgevoel is wat ons van 'n intieme verhouding met Hom beroof. Wat is daar in jou "drom" waarvan jy ontslae wil raak? Kom ons praat met Hom daaroor en vra Hom om ons te help om dit uit te gooi sodat Hy ons met sy Heilige Gees kan vul. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir die berusting dat U my deur en deur ken. Help my om nie so besig te raak met dinge van U dat ek nie by U uitkom nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag: Sien jouself vir 'n oomblik as daardie verfdrom. Hoe lyk jou hart sou jou deksel vandag opgelig word? Is daar iets wat nie in lyn met God se wil vir jou lewe is nie. Bely dit voor God en vra Hom om jou vry te maak.
  • Terugvoer: Om saam te gesels of terugvoer te gee oor die reeks, kan jy epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke

 

Previous article: Dag 5: EK IS ... KAN JOU VRYMAAK - 7 Februarie 2017 Prev Next article: Dag 3: EK IS... ANTWOORD IN OORVLOED - 3 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.