Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 5: EK IS ... KAN JOU VRYMAAK - 7 Februarie 2017

Benescke Janse van Rensburg

In 'n onlangse artikel in die Sunday Times is berig dat bykans 17 miljoen Suid-Afrikaners met depressie sukkel. Dit is 'n derde van ons land se inwoners. Is jy een van hierdie groep mense? Voel dit soms of jy deur emosionele waters verswelg word of asof jy in 'n diep, donker put staan met geen idee hoe jy daaruit sal kan ontsnap nie? 

Die Psalmdigter Dawid het eens só gevoel. In die donker grot waar hy voor Saul en sy manskappe vir sy lewe gevlug het, het hy ook emosioneel geveg om positief te bly. In Psalm 69:2-4 skryf Dawid: "Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. . . Ek het my moeg geroep om hulp, my keel is hees geroep, selfs my oë het ingegee soos ek vir my God gewag het." Ook in Psalm 42:2-4 staan geskryf: "Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. . . Dag en nag is ek in trane."  

Vroeër in Dawid se lewe het hy eerstehands beleef hoe God hom gehelp het om eers as skaapwagter die leeu en beer in die veld te verslaan en later die reus, Goliat. Tog, hier in die grot moes hy veg om vas te hou aan wat hy van EK IS geweet het. In Psalm 42:6-7 lees ons: "Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God!" Hy het gekies om doelbewus God te loof en te prys al het hy nie so gevoel nie.

Watter uitdaging beleef jy tans in jou eie lewe? Is jou huwelik besig om te verbrokkel? Is daar 'n uitdaging by die werk? Is jou siekte besig om sy tol te eis? Is dit finansies wat druk, eensaamheid wat jou wil oorweldig of is dit dalk jou behoefte vir 'n kindjie van jou eie of 'n lewensmaat? Wat doen jy te midde van hierdie uitdagende emosies? Hou jy jou oë op Hom? 

In Psalm 40:2-4 lees ons dat Dawid, wat sy oë op Hom gehou het, sy deurbraak beleef: "Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou!" 

Al weet niemand rondom ons van ons uitdagings nie, kan ons weet dat EK IS daarvan weet - en dat Hy oor ons omgee. Moenie in die vyand se strik trap deur donker emosies 'n geheim te hou omdat ons daaroor skaam voel nie. Kom ons kry eerder iemand wat saam met ons daaroor kan bid - en as dit nodig is, kom ons kry professionele hulp. Alhoewel God ons eensklaps kan genees, doen Hy dit soms deur die proses van medikasie en professionele hulp. Kom ons hou ons oë op Hom, sing 'n loflied in afwagting en onthou dat Hy ons kan vrymaak sodat ons 'n lewe in oorvloed kan smaak. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U by my is in my dal van doodskaduwee. Dankie dat U my dors les en my uit die modder put van hopeloosheid trek en aan my nuwe hoop gee. Help my om deurentyd my hoop op U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag: Maak eerlik 'n lys van dinge wat jou van jou vreugde beroof. Kies om dit aan God oor te gee. As jy voel dat die donker emosies oorweldigend is, kies om die telefoon op te tel en 'n vertroueling daarvan te vertel sodat hulle jou kan help om hulp te kry.
  • Terugvoer: Stuur gerus jou terugvoer oor die reeks of jou getuienis waar jy God se grootheid in jou lewe ervaar het, na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke
Previous article: Dag 6: EK IS... IS ALTYD DÁÁR - 8 Februarie 2017 Prev Next article: Dag 4: EK IS ... kyk binne-in - 6 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.