Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 6: EK IS... IS ALTYD DÁÁR - 8 Februarie 2017

Benescke Janse van Rensburg

Het jy al ooit 'n krisis beleef wat jou laat vra het: "Waar is God? As Hy 'n God van liefde is, hoekom het Hy dit toegelaat?" Die waarheid is egter dat Hy altyd dáár is. Vandag wil ek twee aanhalings met jou deel van twee mense wat my geweldig inspireer het oor die afgelope paar weke.

In 'n onderhoud met voormalige Springbokkaptein, Joost van der Westhuizen voor sy dood, het sy ou spanmaat, Kobus Wiese hom gevra wat hom positief hou ten spyte van sy liggaam wat daagliks weens die motorneuronsiekte verswak. Sy antwoord was die volgende:

  • "Ek het besef (nadat ek gediagnoseer is) dat ek 'n keuse het: Ek kan myself bejammer en wag dat ek doodgaan of ek kan lewe. Ek het nog my kinders en my ouers en so baie ander dinge om voor te lewe. Ek het besluit om ander mense bewus te maak van motorneuronsiekte omdat pasiënte en hulle families met die siekte geweldig swaarkry. In my lewe was ek bevoorreg om geweldige hoogtes, maar ook die laagste in die lewe te beleef. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. . . Aan die begin van my siekte was my vraag, 'Hoekom ek?' Later het ek besef, 'Hoekom nie ek nie? Wat maak my so spesiaal om nie siek te wees nie? As ek deur al die dinge in my lewe moes gaan om vandag ander te help, hoekom nie? Dít laat my glimlag." - Joost van der Westhuizen, voormalige Springbokrugbyspeler, 20 Februarie 1971 - 6 Februarie 2017. 

Danie Brink, hoof van Solidariteit Helpende Hand, en sy gesin was in Desember verlede jaar in 'n ernstige motorongeluk. Twee van hulle kinders het gesterf. Sy vrou, Lise Brink is ernstig beseer en sy het haar een been in die ongeluk verloor. Op die vraag of sy kwaad is vir God, het sy geantwoord:

  • "Nee wat . . . Ek is hartseer omdat ek hulle (my kinders) verskriklik mis en na hulle verlang. Maar hulle is in die hemel. Hoe kan ek hulle dit nie gun nie? Die Here wéét wat Hy doen... en ek bevraagteken Hom nie." - Lise Brink op die vraag of sy kwaad is vir God  

Joost het besef dat hy ander mense deur die grootste krisis in sy eie lewe kan help. Ook Lise se ewigheidsperspektief en verhouding met God inspireer ons almal om te besef dat EK IS ons nooit sal verlaat nie al verstaan ons nie altyd waarom dinge gebeur nie. 

In 1 Korintiërs 10:13 lees ons: "Daar gebeur dinge wat vir julle toets, en wat vir julle wil laat ophou om God te dien. Maar julle kan hierdie dinge oorwin. God sal julle altyd help. Hy sal sorg dat hierdie dinge nie sterker is as julle geloof nie. Wanneer die dinge julle wil laat ophou glo, dan sal God julle help om sterk te wees en aan te hou glo." Ook in Jesaja 55:8-9 sê God self:  “Ja, Ek dink nie soos julle dink nie, en Ek doen nie soos julle doen nie. Ja, wat Ek dink en doen, is ver bo wat julle dink en doen, soos die hemel ver bo die aarde is." (Die Bybel vir Almal-hersiening) 

Mag ons vandag onthou dat EK IS altyd dáár is. Hiér is. By ons elkeen. Hy ken ons uitdagings en vrae en Hy het ook al die antwoorde. Kom ons plaas ons geloof en vertroue in Hom met die wete dat Hy ons as sy instrumente kan gebruik - selfs in ons grootste seer. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat U die hede en toekoms in U hande hou. Help my om my geloof en vertroue in U te plaas - veral as niks anders vir my sin maak nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

 ·         Luister na 'n uittreksel van die onderhoud met Joost en sienl 'n foto van Joost en Lise by www.benescke.co.za

  • Opdrag: Wat is daar in jou lewe wat nie vir jou sin maak nie? Skryf dit neer. Gee dit oor aan God en vra Hom om jou vrede in jou lewe te gee rondom die uitdaging.
  • Terugvoer: Om saam te gesels of terugvoer te gee oor die reeks, kan jy epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke
Previous article: Dag 7: EK IS... GEE OM VIR ONS - 9 Februarie 2017 Prev Next article: Dag 5: EK IS ... KAN JOU VRYMAAK - 7 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.