Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 7: EK IS... GEE OM VIR ONS - 9 Februarie 2017

Benescke Janse van Rensburg

Drie jaar gelede het 'n 68-jarige Britse man, Roger Wilday met sy Duitse Skaaphond genaamd Jade in Birmingham, Engeland in 'n park gaan stap. Hulle was skaars in die park toe Jade skielik in die rigting van digte bosse begin hardloop. Ten spyte daarvan dat Roger haar telkemale teruggeroep het, het sy eenvoudig geweier om op te staan van waar sy tussen die bosse op die grond gaan lê het. Eers toe Roger nader stap, het hy die verlate plastiekinkopiesak langs Jade gesien lê.

Geskok het Roger besef dat dit beweeg. Toe hy dit oopmaak het hy 'n pasgebore baba ontdek. Hy het dadelik die polisie gebel wat die baba na die nabygeleë hospitaal geneem het. Die baba (wat later na Jade vernoem is), het gou aangesterk. Die polisie het in 'n verklaring gesê dat hulle vermoed dat Jade 24 uur oud was toe sy gevind is. Indien Roger en Jade haar nie gevind het nie, sou sy heel moontlik nie die koue wintersnag oorleef het nie.

Ek kan nie help om te wonder wat deur die ma se kop gegaan het toe sy haar pasgebore baba "weggegooi" het nie? Was daar trane? Verligting? Of was sy dalk geforseer om dit te doen? Dit sal ons nie weet nie. Wat ek ook gewonder het, is wat deur God se gedagtes moes gaan toe Hy die perfekgeskape dogtertjie verlate in die park sien lê het. Was daar trane? Ek is seker daar was.

In Jesaja 49:15 lees ons: "Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie."

Wanneer vriende en familielede wat veronderstel is om ons lief te hê ons verwerp, word dit vir ons soms moeilik om God se groot omgee vir ons te verstaan - en daarin te glo. In Jesaja 49:16 sê Hy egter: "Ek het jou naam in my handpalms gegraveer." Ook in Lukas 12:7 lees ons: "Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie." En in Psalm 139:13-16 staan geskryf: "U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. . . Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. . . U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is."

EK IS gee om vir elkeen van ons. Hy het ons uniek gemaak en het planne van voorspoed en nie teenspoed vir ons elkeen se lewens. Mag ons vandag ons oë op Hom hou met die wete dat al voel ons ook eensaam, verstoot of verwerp weens uitdagings in ons lewens of verkeerde besluite uit ons verlede, Hy sal nie van ons vergeet het nie. Hy kom red ons en gebruik soms selfs 'n hond in 'n park om sy liefde aan ons te demonstreer. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my liefhet. Help my om deur storms en uitdagings te onthou dat U vir my omgee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien 'n foto van Jade by www.benescke.co.za.
  • Opdrag: Sê vir God vandag dankie dat Hy jou liefhet. En aanvaar sy liefde.
  • Terugvoer: Om saam te gesels of terugvoer te gee oor die reeks, kan jy epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke

 

Previous article: Dag 8: EK IS... doen steeds wonderwerke - 10 Februarie 2017 Prev Next article: Dag 6: EK IS... IS ALTYD DÁÁR - 8 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.