Dag 8: EK IS... doen steeds wonderwerke - 10 Februarie 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
Lucille Burger, 'n verpleegkundige van Durbanville en haar man Jaco het op 4 Januarie vanjaar 'n wonderwerk beleef toe hulle, hul 2-jarige dogtertjie leweloos in die swembad sien dryf. Hier is Lucille se getuienis:
Lucille: "Terwyl ek daardie oggend besig was om ons 10-maande oue baba te borsvoed, het ons 4-jarige seuntjie, Noa en 2-jarige dogtertjie, Annabel voor die televisie gesit en na 'n storie gekyk. As veiligheidsmaatreël het ons, buiten vir die 'slam lock'-deur na buite, 'n ekstra knip by die skuifdeur aangebring om te verseker dat die kinders veilig bly. Dit is gewoonlik gesluit. Jaco het daardie oggend oudergewoonte die hond uitgelaat en die deure toegeslaan. Alhoewel dit geklink het of die 'slam lock' deur sluit, het die knip van die skuifdeur in die pad gekom en veroorsaak dat beide die deure oop was.
Toe Noa vir ons sê dat sy sussie nie by hom is nie, het ons dadelik na haar begin soek. Geskok het ek gesien dat die deure oopstaan. By die swembad het ek haar lewelose liggaampie bo-op die water gesien. Dit was asof die hele wêreld in daardie oomblik gaan stilstaan het. Ek het Annabel dadelik uit die water geruk. Daar was geen asemhaling of pols nie en haar pupille het reeds geen teken van lewe getoon nie. Haar liggaam was ook yskoud en potblou. Medici noem dit 'n 'droë verdrinking' omdat haar stembande gesluit het. Geen water het in haar longe ingekom nie, maar sy het basies versmoor omdat daar ook geen suurstof ingekom het nie.
Langs die swembad het ek met CPR-kompressies begin. Ek het hard na Jaco geroep wat uitgekom het. Sy eerste woorde was: 'Here, nie my dogtertjie nie!' In retrospek besef ek dat hoewel ek na my man geroep het, hy na God geroep het en dit is waar die verandering gekom het. Ons het ons gemeentelede gemobiliseer om saam met ons te bid terwyl ons vir die ambulans gewag het.
As verpleegster weet ek tot op watter punt ons met CPR probeer om pasiënte terug te bring. Met Annabel was ek reeds lankal verby daardie punt, maar my mamma-hart het my gedring om aan te hou. Ek het later vir langer as 'n kwartier daarmee aangehou.
Eers met die ambulans se aankoms op die toneel het Annabel tekens van lewe begin toon. Hulle het haar hospitaal toe geneem. In my agterkop het ek geweet dat sy langer as vier minute sonder suurstof was. Dit beteken breinskade. (Die pediater het later gesê hy skat sy was agt tot twaalf minute sonder suurstof.) Tog, God het ingegryp en 'n wonderwerk gedoen. In die noodeenheid het Annabel haar bewussyn herwin, na my gekyk en gesê: 'Mamma, ek is wang (bang).' Dit was 'n wonderwerk. Sy het gereageer.
Later daardie dag het Annabel regop in die bed gesit en geëet. Die volgende oggend is sy na die gewone pediatriese saal oorgeplaas en nadat sy uit die hospitaal ontslaan is het ons neurologiese toetse laat doen wat alles normaal was. Hierdie is 'n wonderwerk uit God se hand en ek weet sonder enige twyfel dat Hy daardie dag langs my by die swembad was. Alle eer aan Hom."
In Job 14:5 lees ons: “Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie." Ook in Jesaja 54:17 staan geskryf: "Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; . . . Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. . . sê die Here."
EK IS doen vandag nog wonderwerke. Hy beskerm en bewaar ons te midde van uitdagings. Watter wonderwerk benodig jy vandag? Genesing van 'n gebroke verhouding, fisiese genesing, 'n finansiële deurbraak, 'n werksgeleentheid? Gesels met Hom daaroor. Hy gee om. Sterkte.
Vader God, dankie dat U my lewe en ook die van my geliefdes in U hande hou. Help my om nooit in vrees te leef nie, maar om my geloof en vertroue in U te plaas. Beskerm ook asseblief vandag my geliefdes. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Sien foto van die Burger-gesin hier: Sien foto van Annabel by www.benescke.co.za
Sien video van die getuienis hier: https://www.youtube.com/watch?v=Xa3AEZ_6dbc
OPDRAG: Waar het jy 'n krisis in jou lewe ervaar wat jy vandag kan sê dat EK IS dáár was? Skryf dit neer en vertel dit vir jou geliefdes.
TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na