Dag 9: EK IS stel belang in die fondasie - 13 Februarie 2017
Benescke Janse van Rensburg
Jare gelede toe ek pas begin werk het, het ek in 'n woonstel met 'n mooi uitsig oor die Stellenbosch berge gewoon. Op 'n dag het bouwerk egter begin aan 'n woonstelgebou reg voor ons sin. Alhoewel dit teleurstellend was aangesien ons uitsig mettertyd gedeeltelik versper sou word, het die bouwerk my geïnteresseer. Met elke nuwe vloer van die gebou wat bygekom het, het die bouers hard gewerk om die fondasie te lê. Eers was daar kabels en metaalstrukture wat opgerig is. Hierna is die fondasie met sement gegiet wat met tye veroorsaak het dat die bouers regdeur die nag gewerk het. Die fondasie van elke nuwe vlak sou immers bepaal of dit die gewig van wat op pad was sou kon dra.
Hierdie beginsel geld ook in ons lewens. Omdat God ons elkeen se toekoms ken, stel Hy belang in ons fondasie. Hy wil seker maak dat ons druk, maar ook die voorspoed, van die volgende seisoen sal kan dra sonder dat dit ons lewe uitmekaar laat val en ons verhouding met Hom beïnvloed. Voordat ons dus 'n deurbraak beleef, sal Hy ons karakter en geloof eers toets. Abraham en Sara het jare lank een van hierdie "ongemaklike, moeilike seisoene" beleef terwyl hulle vir hulle eie baba gewag het. Josef het dit ook beleef waar hy vir jare lank in die Egiptiese tronk opgesluit was. Job het dit beleef toe hy al sy besittings en kinders verloor het. En Daniël het geweet dat 'n kuil vol honger leeus vir hom gewag het sou hy aanhou om God te aanbid.
Vir al bogenoemde mense was die karakter en gelooftoetse groot. Tog, omdat hulle geslaag het, het God vir Abraham en Sara 'n baba gegee al was hulle lank reeds te oud daarvoor. Josef is binne 'n dag van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder. Job het tweemaal die voorspoed beleef wat hy eens gehad het en Daniël het beleef hoe EK IS die honger leeus se bekke in die leeukuil gesluit het.
In Psalm 105:19 lees ons: "Josef was ’n slaaf totdat die tyd gekom het toe hy moes praat, en die Here vir hom gesê het wat hy moet sê." In 'n ander vertaling lees ons dat God Josef se karakter deurentyd getoets het totdat hy sy deurbraak beleef het. Ook in Hebreërs 11:6 lees ons: " . . . sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek."
Beleef jy tans in 'n "ongemaklike, moeilike seisoen" in jou eie lewe? Dalk is joune in die vorm van 'n moeilike werkgewer of kollegas in die werkplek? 'n Seisoen van werkloosheid? Dalk ten opsigte van jou gesondheid? Dalk wag jy soos Abraham en Sara vir 'n kindjie of huweliksmaat van jou eie? Of bid jy ook al lank vir 'n geliefde se redding en dit voel of niks verander nie. Onthou, EK IS weet alles en Hy hoor elke gebed wat jy bid. Druk deur en slaag die toets. Hy is heel moontlik besig om jou karakter sterk te maak vir wat dalk die grootste wonderwerk mag wees wat jy al ooit beleef het! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat my welstand vir U belangrik is en dat U my nie sal bevorder na die volgende vlak as ek nog nie sterk genoeg is nie. Help my om getrou te bly in die klein dingetjies en om U te vertrou met my toekoms. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
OPDRAG: Wat in jou lewe is ongemaklik en moeilik? Vra God om jou deur sy Heilige Gees te versterk om die karaktertoets te deurstaan.
TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na