Dag 10: EK IS . . . soek gehoorsaamheid - 14 Februarie 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
’n Week of wat gelede staan ek in die kombuis by ons huis en was my 21-maande oue dogtertjie se bottels. Meteens besef ek dat ek een van haar bottels in die kamer vergeet het. Gedruk vir tyd, vra ek my 4-jarige dogtertjie wat in die leefkamer speel om die bottel vinnig te gaan haal. Waar sy gewoonlik dadelik gehoorsaam sal wees, antwoord sy dié keer: "Mamma, ek sal nou-nou gaan. Ek speel net gou eers hier klaar." Wat? Nie nou-nou nie, nou! Nou-nou gaan dit te laat wees.
Half verbaas, half gefrustreerd, was ek op die punt om haar die Leviete voor te hou en selfs die bottel self te gaan haal (aangesien dit baie vinniger sal wees as om 'n 4-jarige te probeer oortuig), toe ek duidelik die Heilige Gees se stem ervaar: "Benescke, verstaan jy nou hoe frustrerend dit soms vir My is as Ek 'n opdrag aan een van My kinders gee en hulle dit nie dadelik gehoorsaam nie - omdat hulle 'te besig' met hulle eie dinge is?"
Noag, Gideon en Abraham. Al drie hierdie mans het 'n opdrag van God gehad. Noag moes 'n ark bou. Gideon moes as Rigter die manskappe in 'n veldslag lei (al het hy in homself en sy eie vermoë getwyfel). En Abraham moes die seun, Isak vir wie hy etlike dekades gewag het, gaan offer. Wat sou gebeur het as hierdie mense "te besig" was om God se opdrag te gehoorsaam? Sou Noag en sy familie dalk saam met die res van die mensdom verdrink het? Sou Gideon die aanval van die vyandige weermag oorleef het? En sou Abraham ooit die genot van God se beloftes ten volle beleef het?
In 1 Samuel 15:22 lees ons: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande . . . " In Johannes 14:15 sê Jesus: "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer." En in Deuteronomium 5:33 lees ons: "Bly op die pad wat die Here julle God vir julle aangewys het, sodat julle kan bly lewe en voorspoedig kan wees en lank kan woon in die land wat julle in besit sal neem."
Onmiddellike gehoorsaamheid wys ons geloof in EK IS. Dit demonstreer aan Hom dat ons Hom méér vertrou as wat ons toelaat dat vrees en onsekerheid oor ons toekoms ons oorweldig. In die kombuis het my dogtertjie se ongehoorsaamheid veroorsaak dat ek self die bottel gaan haal het. Tog wonder ek hoeveel keer my eie ongehoorsaamheid aan God se opdragte veroorsaak het dat ek 'n geleentheid gemis het om 'n instrument in sy hande te wees (terwyl Hy daarna die opdrag aan iemand anders gegee het). Kom ons kies vandag saam om onmiddellik gehoorsaam te wees. Al maak die opdrag in die hede nie sin nie kan ons weet dat ons 'n God aanbid wat die toekoms in sy hande hou. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my steeds ten spyte van my swakpunte en tekortkominge gebruik. Versterk my asseblief deur u Heilige Gees om onmiddellik gehoorsaam te wees as U my lei. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
OPDRAG: Was jy onlangs ongehoorsaam aan God se opdrag aan jou? Gesels met Hom daaroor. Kies om van vandag af dadelik te reageer.
TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na