Dag 11: EK IS . . . MAAK ONS SKOON - 15 Februarie 2017
Deur Benescke Janse van Rensburg
Vir die afgelope vyf jaar reeds beleef Beijing, China 'n windstilte wat gevolglik 'n vuil kombers van rookmis oor die stad laat hang. In Januarie vanjaar het Chinese owerhede 'n kode oranje waarskuwingsvlak vir die stad uitgereik nadat lugbesoedeling krisisafmetings aangeneem het. Buiten vir die neus-en-mond skerms wat die mense op straat dra, was die onlangse krisis so erg dat van die stad se skole hul buitelugaktiwiteite vir 'n tyd moes staak.
In die lig van bogenoemde was dit dus goeie nuus toe die minister van omgewingbeskerming in die stad aankondig het dat die vreemde vakuumtoring, wat deur die Nederlandse Studio Roosegaarde ontwerp en verlede jaar geïnstalleer is, met die doel om rookmis in te suig werk. Daar is bevind dat lug rondom die toring tot 55% skoner as voorheen is.
In ons lewens ervaar ons soms seisoene of situasies wat dit vir ons laat voel of daar rookmis rondom ons hang. Ons sukkel om goeie besluite te neem omdat dit voel of 'n bepaalde krisis dreig om ons te versmoor. In 1 Petrus 5:7 lees ons egter: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” En in Matteus 11:28 sê Jesus: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee."
In EK IS se teenwoordigheid is daar genesing en redding. Hy verwyder die "rookmis" en help ons om met 'n nuwe visie vorentoe te kyk. Hy maak ons harte rustig en vul ons met vreugde, vrede en hoop. Kom ons kies om vandag ons bekommernisse op Hom te werp en in Hom te rus, wetend dat Hy aan ons die rus gee. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U reeds my toekoms ken. Help my om U te vertrou - veral as dit voel of my bekommernisse die asem uit my pers. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Klik op www.benescke.co.za om 'n foto te sien van die vakuumtorning in Beijing. Besoek gerus ook die sosiale netwerk, Fbook se bladsy, Stories van Hoop.
- Opdrag: Wat voel of dit jou gaan oorweldig? 'n Krisis by die huis, werk of in jou gesondheid? Bespreek dit spesifiek met God en GEE OOR aan Hom. Hy kan jou vul met rustigheid.