DAG 12: EK IS. . . MAAK DIE STORMS STIL - 16 Februarie 2017
Benescke Janse van Rensburg
Die Dineo-sikloon en die Oroville-dam. Hierdie twee het die afgelope paar dae gesorg vir bekommernis vir 'n groot klomp mense. In Mosambiek is inwoners aan die Suidkus by Xai-Xai wagtend op die tropiese sikloon, Dineo, wat die kus teen 3,7 km/h nader. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat hierdie sikloon hewige reën en vernietigende winde van tot 212 km/h kan inhou.
Ook in Kalifornië is sowat 200,000 inwoners aan die begin van die week inderhaas ontruim nadat die Oroville-dam, een van die grootste damme in Amerika, se noodsluis weens erosie erg weggekalwe is terwyl die watervlakke aansienlik bly styg. Indien die damwal sou breek, kan 'n groot klomp mense wat onder die dam woon omkom sodra die water in massas afkom. Alhoewel van die inwoners gister na hulle huise teruggekeer het, is hulle gemaan om voorbereid te wees om op die vlug te slaan indien verdere probleme by die dam veroorsaak word.
Ek wonder hoe dit moet voel om in Xai-Xai te woon, wetend dat die sikloon op pad is. Of dalk in een van die dorpe of gemeenskappe onder die Oroville-dam. Leef die mense in vrees? Verwag hulle die ergste? Of berei hulle so goed moontlik voor vir wat op pad is sodat hulle kan vertrou dat God hulle sal beskerm teen wat ook al mag volg?
In ons lewens is daar ook van tyd tot tyd daardie situasies wat ons met vrees vul. Dit kom in die vorm van gerugte van afleggings by die werk, 'n huwelik wat in die rigting van 'n egskeiding beweeg, die nuus dat 'n siek geliefde moontlik slegs weke oorhet om te leef, 'n werkskontrak wat nie hernu word nie of 'n kind wat moontlik nie sy akademiese jaar sal slaag nie. Hierdie onseker situasies kan 'n mens maklik met vrees vul, jou maag op 'n knop trek en ons beroof van ons lewensvreugde. By alles verlam dit ons en maak dit dit moeilik om goeie besluite te neem.
Jesus se dissipels het dit eens beleef. In Markus 4 lees ons dat hulle besig was om die meer oor te steek toe 'n storm meteens opsteek. Golwe het geslaan en die skuit met water begin opvul. Die dissipels was histeries. Sou hulle omkom? Bekommerd het hulle Jesus wakkergemaak wat geslaap het: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” In Markus 4:39-40 lees ons dat Jesus opgestaan het, die wind bestraf het en vir die see gesê het: "'Hou op! Bedaar!" Die wind het dadelik gehoorsaam en 'n groot stilte het gevolg. Toe draai Jesus na sy dissipels en vra: "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?"
Ook in 2 Konings 6 lees ons dat die koning van Aram sy soldate met strydwaens en perde gestuur het om die profeet Elisa gevange te neem. Die weermag het die stad in die nag omsingel. Toe Elisa se slaaf dit die volgende oggend sien, was hy histeries van vrees. Sou hulle sterf? Elisa antwoord egter in 2 Konings 6:16: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.” God het hierna die slaaf se geestesoë oopgemaak sodat hy kon sien dat die berge rondom hulle gevul was met perde en strydwaens van vuur. EK IS se leërskare het hulle beskerm.
Te midde van dreigemente van slegte dinge het ons 'n keuse. Gaan ons vaskyk in die WAT AS of in EK IS? Hý verander nooit nie. Hy is groter as enige uitdaging en het reeds die antwoorde en oplossings op probleme wat jy nog nie eens in die gesig gestaar het nie. Al woed die storms en al is daar gerugte van 'n sikloon of massas water, EK IS maak die storm met een woord stil. Ook is sy strydwaens en perde van vuur heelwat groter en sterker as die grootste weermag op aarde wat ons met vrees wil vul. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat ek nie in vrees hoef te leef oor wat potensieel kan verkeerd gaan of hoe sleg dinge potensieel kan uitdraai nie omdat U reeds die toekoms ken. Help my om my geloof en vertroue in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Sien foto van die Dineo-sikloon en die Oroville-dam by www.benescke.co.za
OPDRAG: Wat is die ding wat jou met vrees vul? Gesels met God daaroor. Kies om dit by Hom te los.
TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na