Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

DAG 13: EK IS. . . GEE 'N LEWE IN OORVLOED - 17 Februarie 2017

Benescke Janse van Rensburg

Humor is verseker een van Craig Dietz se grootste bates in sy lewe. As hy vandag gevra word wat sy stokperdjies is, sou hy antwoord om onder meer te swem, jag, hengel, ski, vlugbal en tromme te speel. Wat egter merkwaardig is, is dat Dietz sonder arms of bene gebore is. Dít stuit hom egter nie.

Dietz, wat tans Suid-Afrika besoek en onder meer verlede week aan die Midmar-myl in KwaZulu-Natal deel te neem, het die week die pasiënte van die Mediclinic Muelmed se neuro- en spinale rehabilitasiesentrum moed ingepraat. In sy toespraak het hy genoem dat hy homself nie as 'n gestremde sien nie. Ook het hy gesê: "Jy moet jou eie potensiaal definieer en jouself elke dag uitdaag." Met dié ingesteldheid het Dietz verlede week nie net een myl nie, maar sewe myl geswem tydens die Midmar Myl ten bate van 'n nie-winsgewende organisasie.

Op die vraag wie hom ondersteun het, het Dietz gesê dat sy familie sy grootste bate is. Hulle het hom nooit opgepiep nie, maar eerder aangemoedig om alles self te doen - selfs bestuur. Met sy eerste voertuig (wat natuurlik aangepas is dat hy oor die weg kan kom), het hy ondermeer 'n nommerplaat opgesit met die woorde: "Look Mom, no hands!" As gesin het hulle nog altyd lag-lag deur elke seisoen gekom.

In ons eie lewens kan uitdagings in die vorm van 'n gestremdheid, 'n arm agtergrond, 'n egskeiding, 'n aborsie, 'n kriminele rekord, bitterheid of selfs verkeerde besluite uit die verlede wat jouself (of ander) seergemaak het, 'n kruk word. Ons leun daarteen en dit beroof ons daarvan om 'n oorvloedige lewe te beleef. Dít is waar die vyand ons wil hou.

EK IS is egter genadig. As ons waarlik berou het oor verkeerde besluite, kan Hy ons genees en verlos. In Johannes 10:10 sê Jesus: "'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed." Ook in Jesaja 44:22 sê EK IS: "Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos." En in Jeremia 29:11 herinner Hy ons: "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!"

Geen hindernis of uitdaging is te groot om omgedraai te word om juis ons grootste getuienis te word vir ander mense in 'n soortgelyke situasie. EK IS het ons lief en Hy gee werklik om oor ons elkeen. Hy wil ons gelukkig sien. Kom ons leer uit Craig Dietz se lewensfilosofie en werk doelbewus daaraan om nie ons identiteit te vind in wat ons bereik of wie ons seergemaak het nie, maar eerder in die Een wat nooit verander nie. Sterkte.

Vader God, dankie dat U my uniek geskape het. Help my asseblief om my identiteit in U te vind en nie toe te laat dat iets in my lewe (of gedagtes) vashaak wat my van U beste vir my kan beroof. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien 'n foto van Craig Dietz by www.benescke.co.za of aanlyn op die sosiale netwerk, Facebook se bladsy, Stories van hoop.
  • OPDRAG: Wees eerlik met jouself, is daar iets waaragter jy skuil wat jy nog nie met God bespreek het nie? Praat met Hom en gee dit oor sodat jy ook 'n lewe in oorvloed kan smaak.
  • TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Benescke
Previous article: DAG 14: EK IS. . . IS SOMS STIL - 20 Februarie 2017 Prev Next article: DAG 12: EK IS. . . MAAK DIE STORMS STIL - 16 Februarie 2017 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.