DAG 14: EK IS. . . IS SOMS STIL - 20 Februarie 2017
Benescke Janse van Rensburg
Stilte, 'n doodse stilte, laat 'n mens vinnig ongemaklik voel. Tog, in 2006 het 'n navorsingstudie bevind dat een uur per dag se stilte jou gemoedstoestand aansienlik kan verbeter omdat dit jou stresvlakke verlaag. Die Brain, Structure and Function-joernaal het in 2014 'n studie gepubliseer waarin bevind is dat twee ure per dag se stilte nuwe selle in die hippokampus van die brein, 'n sleuteldeel verantwoordelik vir leer, onthou en emosie, kan vorm. Stilte het verder ook 'n terapeutiese effek op mense wat sukkel met depressie en Alzheimersiekte.
In ons geloofslewe kan stiltes wat ons ervaar soms oorweldigend voel. Om jou geloof te behou in tye waarin ons bid oor bepaalde sake en dit voel asof EK IS nie hoor nie, bring ons van aangesig tot aangesig met twyfel. As ons dit nie stop nie, kan ons maklik die geskenk opgesluit in die stilte mis. Die waarheid is dat EK IS elke gebed wat ons in geloof bid, hoor. Hy kies egter om soms stilte te gebruik om ons te toets, te vorm en voor te berei vir wat op pad is. Terselfdertyd groei ons afwagting vir die deurbraak.
Abraham en Sara het dit beleef terwyl hulle vir 'n kind gewag het. Josef het dit in die tronk beleef terwyl hy gewag het dat sy drome in vervulling kom. Ook die Israeliete het dit beleef. Vanaf die laaste profesie van die koms van 'n Verlosser in die Ou Testament tot die koms van Jesus Christus in die Nuwe Testament, het 'n tydperk van 400 jaar van stilte verloop. 400 jaar! Dit is 'n lang tyd. Dit was 'n tyd waarin die volk opnuut die profesieë van die koms van 'n Verlosser gaan besoek en bestudeer het sodat dit kon insink. Dit was ook 'n tyd waarin die afwagting op die koms van 'n Verlosser gegroei het. Eers toe EK IS gesien het dat die tyd ryp was, het Hy sy Seun gegee wat vir ons gebore is.
Wat is die deurbraak waarop jy vandag wag? Die herstel van 'n verhouding, jou finansies, jou gesondheid, 'n kindjie of lewensmaat of dalk 'n werksgeleentheid? Wat is jou houding in die wagtyd? In Psalm 27:14 lees ons: "Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!" (1953-hersiening) Ook in Jesaja 40:31 staan geskryf: " . . .maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie." En in Klaagliedere 3: 25-26 staan geskryf: "Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here . . ." (1953-hersiening).
EK IS sluimer en slaap nooit nie en in die stiltetye kan jy weet dat Hy besig is om agter die skerms dinge in plek te stel. Hy weet wat jy benodig en meer nog, Hy weet wat die regte tyd is om dit te ontvang. In stede daarvan om die stilte as 'n "doodse stilte" te sien, kan ons gerus begin om dit 'n "lewende stilte" te sien. Dit is 'n tyd waarin ons Hom werklik kan leer ken. Ons kan teruggaan na sy beloftes oor ons bepaalde situasie. En ons kan Hom begin prys in geloof vir 'n deurbraak in sy perfekte tyd vir ons lewens. Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U my toekoms ken. Help my om nie moed te verloor in die stiltes nie. Versterk my en help my om geduldig en in geloof te wag op U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
OPDRAG: Wat is jou ingesteldheid op die stiltetye in jou lewe? Sê vandag in geloof vir Hom dankie vir jou deurbraak wat op pad is - al sien jy dit nog nie.
TERUGVOER: Stuur gerus jou terugvoer, getuienis of vrae rondom die tema na