As alles tot niks kom! - 17 Maart 2017
Hennie Symington
Al sou die vyeboom nie bot nie ... nogtans sal ek in die Here, jubel, sal ek juig in God my Redder. Habakuk 3:17,18
Of jy nou ʼn landbouer is of nie, ons almal ken die pyn van misoeste in ons lewe. By tye kan ons terugkyk oor vrugbare seisoene wat ons nuwe krag en hoop vir die toekoms gegee het. Soos wat die seisoene kom en gaan, wonder ons egter wat die toekoms vir ons inhou. Hoe wag ek op die volgende oes sonder om die hoop op ʼn vrugbare seisoen prys te gee?
Kyk terug en leer uit die seisoene wat verby is. Die wyse landbouer sal hom sekerlik afvra: Wat leer ek op hierdie tydstip in my lewe wat my beter sal voorberei op die komende seisoen? Sal hierdie kennis my dra deur die opvolgende seisoene, goed of swak?
Om sterk te staan in donker tye en mislukkings help jou om hoop en standvastigheid te bied aan ander wanneer hulle deur teleurstellings getref word. Die belangrikste is egter om nie moed te verloor in sulke tye nie, maar om verseker te weet, deur donker of voorspoedige tye, het God jou nooit versaak nie.
Gebed: Onse Vader, bewaar ons van wanhoop wanneer ons oeste misluk. Moet ons nie aan ons gevoel van teleurstelling en verlies oorlaat nie. Leer ons om vorentoe te kyk met die belofte op ʼn nuwe seisoen wat nuwe groeipunte in ons lewens bring. Amen