God laat groei! - 22 Maart 2017
Hennie Symington
“Met die koninkryk gaan dit so: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Markus 4:26
My man is ʼn tuinier. Hy praat met sy plante, hy maak hulle snags toe onder ʼn seilkombersie, voed hulle, gee hulle water op hulle tyd en fluister liefdeswoorde aan sy tuin waar ander nie kan hoor nie.
Tog besef jy, of jy nou sorgvuldig jou akkertjie versorg of nie (sy vrou vergeet gereeld om die plante water te gee) en jy gereeld slapelose nagte het oor jou plante wat wind en weer, droogte en insekte moet weerstaan, groei hulle ongeag jou sorg of gebrek aan sorg. Het ons tuine ons rêrig nodig?
Op ʼn ander vlak kan ʼn mens vra: Het God ons rêrig nodig om sy koninkryk te versorg? Watter verskil maak ons in sy koninkryk? Vat maar vir Jona wat leedvermakerig onder die wingerdrank gaan sit en wag het vir God om die inwoners van die stad te vernietig. Tot God hom daaraan herinner het dat hy nie die boom geplant of laat groei het nie. God het. Al wat hy moes doen was om ʼn boodskap aan die stad Ninevé te bring. Om die saad te strooi. En toe hy uiteindelik doen wat God vra, het die mense hulle bedink en gesê: “Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie, dan sal ons nie omkom nie.” (Jona 3:9). En dit is presies wat gebeur het. Jy word gestuur om die saad te saai. God laat groei.
Gebed: Here, U vertrou ons met u boodskap aan die wêreld dat U omgee vir mense. En dat dit nie vir my is om die oes te weeg nie, maar om die boodskap van redding aan mense te bring. Amen.