“Je ne regrette pas...” - 23 Maart 2017
Hennie Symington
Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Filippense 3:13
In Edith Piaf se immergroen liedjie “No Regrets” wat oor dekades heen steeds in ons gedagtes weerklink, verklaar sy onomwonde dat sy geen verwyte oor haar lewe het nie. In teenstelling hiermee, vind ons dat ons dikwels verstrengel raak in verwyte. Ons wonder hoe ons lewens sou uitgedraai het as ons dinge anders gedoen het, of as jy met iemand anders getrou het, of as ons die ander afdraaipad geneem of jou drome nagevolg het. Soos Lot se vrou kyk ons graag terug na wat agter lê.
Soms raak ons so behep met die verlede en droom dat met “waters wat verby” is weer gemaal kan word, dat ons die hede met al die moontlikhede wat daarin opgesluit is, deur die vingers laat glip.
Wanneer ons die Psalms van Dawid lees en sy lewe soos dit opgeteken is in die Ou Testament in oënskou neem, word ons herinner aan die moeilike tye wat hy te bowe moes kom – oorlog, gesinsgeweld en onenigheid. Uit die Psalms leer ons ook dat seisoene kom en gaan en geen seisoen hou verewig nie. Die goeie nuus, ongeag die slegte seisoene, is dat daar altyd iets in die verbygaande seisoene is wat die moeite werd is om te onthou. Wanneer die verlede ʼn houvas op jou toekoms het, en jou vreugde bedreig, neem Paulus se raad en reik uit na wat nog moet kom en glo: Die beste lê nog voor.
Gebed: Here, u Woord leer ons dat daar betekenis is in elke seisoen van die lewe wat U aan ons gegee het. Dankie Here, dat U die seisoene daarstel as bakens op ons lewensreis. Amen