Om God in die dieptes van jou siel te ontmoet. - 24 Maart 2017
Hennie Symington
Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. ... Efesiërs 1:18
Van die diepste en mees ontroerende momente in die Woord is waar God uitreik en Hom bekendstel aan die mens in die wildernis of in ʼn tuin. Richard Rohr, die bekende skrywer, teoloog en filosoof wat bekend is vir sy skrywe oor spiritualiteit, verduidelik dit so: “Ons eerste Bybel is die skepping self. Dit is die eerste bekendstelling van God se aard aan die mens.”
Dit beteken nie dat God deel is van die natuur of in die natuur is nie. Trouens, ʼn ontmoeting met God vind dikwels plaas in plekke ver van die natuur – in die kerk, in hospitale, in die tronk, of by ʼn oop graf.
Een wyse het dit eenmaal as volg beskryf: “Is jy op soek na God? Soek gerus, maar kyk binne in jouself. Hy is nie ver van jou af nie.” Die Here is naby aan enigeen wat met opregtheid op hom wag. Jou binneste is God se wagkamer. Elkeen wat hom ontmoet, ontmoet hom daar. Daar is geen ander bymekaarkomplek vir die siel nie,” (Theophan die Kluisenaar).Teoloë beskryf dit as daardie “dun skrefie” waar geloof gebeur en waar die ontmoeting tussen God en mens ʼn realiteit word.
Gebed: Dankie Here dat U naby aan ons is, nie slegs in die natuur nie, maar veral in die diepste dieptes van ons siel waar U ʼn straaltjie lig deur ons binneste skyn. Amen.