Die HERE is my herder - 28 April 2017
Xanthe Hancox
'n PSALM van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Psalm 23:1-3 (1933/1953-vertaling)
"Die Here is my herder" is een van die mees geliefde liedere gebasseer op een van die mees geliefde psalms. Mense hou vir 'n goeie rede van hierdie psalm. Dit verwys na die kalmte van groen weivelde en na waters waar daar rus is. Bo-alles verwys dit na 'n Herder wat ons lei en versorg.
Die Here is my Herder is nog een van die ou liedere wat sy wortels in die Hervorming het. Ek het 'n paar dae gelede vertel van die Protestante wat uit Engeland na Europa gevlug het toe hulle tydens die bewind van die Katolieke koninging Maria I (1553-1558) vervolg is. In Europa, onder die invloed van Luther en Calvyn is hulle aangemoedig om die Psalms te sing. Na die dood van Maria I en toe Elizabeth I die troon bestyg het, het hulle na Engeland teruggekeer en hulle metriese Psalms saamgebring.
In die laat 1640's het 'n groep kundiges saamgekom met die doel om 'n getroue, metriese vertaling van die Psalms daar te stel. Die Skotse 'Psalter' is in 1650 gepubliseer en dit het gou die standaard vir die sing van die Psalms geword. Psalm 23 soos opgeneem in hierdie Skotse Psalmboek is die wysie van "Die Here is my Herder" wat vandag nog die meeste gesing word.
Die berymde weergawe van Psalm 23 is baie getrou aan die Psalm van Dawid. God is ons Herder, die Een wat in al ons behoeftes voorsien. Die beeld van die Here ons Herder konfronteer ons egter ook met 'n vraag: Indien die Here ons Herder is, is ons skape wat Hom volg en Hom vertrou? Of volg ons ons eie pad?
Die Herder sê dat Hy in al ons behoeftes sal voorsien. En tog, hoe dikwels soek ons nie op ander plekke na dit wat ons nodig het nie. Ons dwaal weg van die Herder want ons vertrou God nie volkome nie. Ons bekommer ons oor wat môre gaan bring, en ons maak ons eie planne om ons behoeftes aan te spreek.
Wanneer jy twyfel, is my raad dat jy die woorde van hierdie Psalm moet sing. Jy moet jou nie bekommer oor môre se behoeftes nie. Jou Herder het vir vandag voorsien en Hy sal ook vir môre en elke dag daarna voorsien.
Gebed: Here, help my om hierdie bekende woorde vanoggend ter harte te neem. Help my om, ten spyte van my omstandighede, op U te vertrou. Amen
Luister hier na 'n pragtige opname van die bekende lied: https://www.youtube.com/watch?v=HndQZlmJPpc