Praat met God - 2 Mei 2017
Neville Turley
Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. 1 Tessalonisense 5:16-18
Paulus het die kerk in Tessalonika gestig en hierdie brief was om hulle aan te moedig om vas in die geloof te staan en mekaar te ondersteun en om gedurig te bid.
Dit is goeie raad, maar makliker gesê as gedoen. Meeste Christene vind hulle gebedslewe uiters moeilik en dié stryd belemmer hulle geestelike groei.
Moeder Teresa (1910-1997) was bekend as die "die heilige van die modderslote". Wêreldwyd het mense haar geëer vir haar lewenslange werk om toegewyd die armes, die siekes en die sterwendes te help. Soos baie van ons, het sy egter ook haar geloofskrisisse beleef en verwys daarna as "die donker nagte van die siel".
In krisisse moet ons voortdurend tot God bid. Ons Here Jesus Christus het die gelykenis van die weduwee wat herhaaldelik by die regter gepleit het aan sy dissipels vertel om hulle te leer dat hulle moet aanhou bid en nooit moet ophou nie. (Lukas 18:1-8)
Die weduwee is te na gekom en het by die howe om geregtigheid gepleit. Die regter wat haar saak moes verhoor, het haar geïgnoreer. Die weduwee het egter nie moed opgegee nie en het herhaaldelik by die regter gepleit.
Haar volharding het uiteindelik vrugte afgewerp. Die regter het haar saak aangehoor en het haar versoek toegestaan.
Ons moet by die weduwee leer om nooit op te hou bid nie. Sy het aanhoudend en opreg by die regter gepleit. So moet ons gebede tot God ook wees. Jesus beloof ons dat as ons aanhou bid, God sal antwoord.
Gedurende hierdie maand gaan ons na Bybelgedeeltes kyk wat ons gebedslewe kan verryk en ons nader aan God kan bring.
Gebed: Hemelse Vader dnkie vir u Seun wat ons geleer het hoe om te bid, sodat ons U
Deur die krag van die Heilige Gees kan loof, prys en verheerlik. Amen