'n Spesiale dag - 3 Mei 2017
Neville Turley
Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. Handelinge 2:1-4
Die pinksterfees is vir gelowiges 'n spesiale dag. Die naam pinkster beteken die 50ste dag na die Paasfees. Dit het sy oorsprong in die Joodse "Fees van weke" (Shavuot). Shavuot was die tweede grootste fees op Israel se jaarlikse kalender. Dit is oorspronklik as 'n oesfees (Levitikus 23:16) gevier. Later is dit gevier om die dag te herdenk toe Moses die Wet op Sinai in ontvangs geneem het.
Plaas jouself in die dissipels se skoene. Op daardie eerste pinkster was hulle almal bymekaar besig om te bid. Die opgestane Jesus se laaste woorde aan hulle was 'n belofte. "Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Handelinge 1:8)
Die dissiples het 'n boodskap om met die nasies te deel, en juis op hierdie stadium is Jerusalem tot barstens toe vol met Jode wat vreemde tale praat. Hulle het van oraloor gekom om Shavuot te vier. Maar hoe kon die dissipels hulle storie met die mense deel?
Toe, in God se volmaakte tydsberekening ontvang die dissipels die geskenk wat Hy hulle beloof het. Hulle word vervul met die Heilige Gees en onmiddellik kan hulle in al die vreemde tale met die mense praat.
Dit doen die dissipels met oorgawe en op daardie eerste pinksterdag word die Christelike Kerk gebore.
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die gawe van die Heilige Gees. Vul ons voortdurend met u Gees sodat ons, ten spyte van ons swakhede, U kan dien. In die Naam van Jesus vra ons dit. Amen