Petrus, 'n man van aksie - 4 Mei 2017
Neville Turley
Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” Handelinge 2:38-39
Simon Petrus was 'n gebore leier. 'n Impulsiewe man van aksie wat dikwels gepraat het voordat hy gedink het. Petrus se onmiddellike reaksie in stresvolle tye het dikwels daartoe aanleiding gegee dat Jesus hom moes aanspreek.
Jesus het hom liefgehad. Hy was die eerste dissipel wat deur Hom geroep is om Hom te volg. As 'n visserman, was hy saam met sy broer, Andreas, besig om 'n net in die See van Galilea uit te gooi, toe Jesus verbystap en sê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Markus 1:17) Getrou aan sy aard het Petrus onmiddellik die nette gelos en Jesus gevolg.
Op pinksterdag, nadat hy deur die Heilige Gees vervul is en al die vreemde tale kon praat, het Petrus onmiddellik tot aksie oorgegaan en begin om vir die baie buitelandse Jode te preek. Daardie dag het die profesie oor Jesus in vervulling gegaan. Dat was Petrus se eerste preek en hy het dit gebaseer op 'n profesie van die profeet, Joël: " … Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. …” (Joël 2:28-32)
Nadat hulle na Petrus geluister het, het 3 000 mense Jesus as Verlosser en Saligmaker aangeneem en is hulle gedoop.
Die Heilige Gees gee vandag nog die krag aan Christene om na ander in hulle moedertaal uit te reik. Die volledige Bybel is beskikbaar in 563 tale wat deur ongeveer 5,1 miljard mense gepraat word. Bid dat daar voortgegaan sal word om Gods Woord beskikbaar te stel en dat meer mense hulle tot Jesus sal wend en deel van sy Kerk sal word.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons ook die evangelieboodskap met ander sal deel sodat hulle op u stem kan antwoord en gered word. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen