Die grootste woordsmid - 5 Mei 2017
Neville Turley
Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. Jesaja 55:10-11
Kommunikasie kan gedefinieer word as die aksie om gedagtes en inligting van een persoon of groep met 'n ander te deel. Daar is verskeie kommunikasiemetodes – deur die gesproke woord, deur gebare en tekens en deur die geskrewe woord.
Kommunikasie speel 'n kernrol in ons verhouding met God en ons medemens.
Reg aan die begin van tyd, het God sy skepping met woorde gevorm. Die belangrikste verskil tussen die woorde van God en ons woorde is dat sy woorde een is met sy aksies.
Regdeur die storie van die skepping in Genesis 1, is daar die refrein – " Toe het God gesê" gevolg deur " So het dit gebeur". "Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig." (Genesis1:3)
Ons vers vir vandag is 'n bewys dat die Here die grootste woordsmid ooit is. Sy woorde is nie net in 'n boek opgeteken nie. Hulle getuig vandag steeds van sy aktiewe teenwoordigheid om sy doel met die wêreld te bereik.
"Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart." (Hebreërs 4:12)
God het ons hier met 'n doel geplaas. 'n Doel wat slegs aan ons geopenbaar sal word wanneer ons ons in gebed wend na die Woord van God wat mens geword het en onder ons kom woon het.
Wanneer ons bid, kommunikeer ons met God en deur sy Heilige Gees maak Hy sy wil aan ons bekend.
Gebed: Hemelse Vader dankie dat ons deur gebed met U kan kommunikeer. Gee, deur u Heilige Gees leiding en inspirasie aan ons. Amen