Ons eerste prioriteit - 8 Mei 2017
Neville Turley
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Genesis 1:26-27
Toe God ons gemaak het, het hy binne-in ons 'n bewustheid van sy teenwoordigheid geskep. Paulus verduidelik hoekom Hy dit gedoen het. "Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, …" (Romeine 1:20)
God het ons gemaak om interaksie met Hom te hê. Die mensdom doen dit egter heel dikwels heeltemal verkeerd. Instede van om ons na God self te wend, ignoreer ons Hom in ons dwaasheid en aanbid dit wat Hy geskep het.
Die aarde, son, maan, onsienbare en sienbare afgode, vals gode en selfs mense was al almal voorwerpe van verering tot wie mense bid. Deur dit te doen verwerp hulle die een ware God en verdien hulle sy woede.
Jesus leer ons dat elke gelowige se eerste prioriteit moet wees: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod." (Matteur 22:37-38)
Deur gebed groei en floreer ons verhouding met God. Gebed maak dit vir ons moontlik om in gemeenskap met God te wees. Dit is sy manier om op 'n een tot een basis met ons te kommunikeer, om ons deur die Heilige Gees te lei en ons ryklik te seën.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U 'n behoefte aan u teenwoordigheid en 'n bewustheid van u liefde in ons vasgelê het. Help ons om deur die Heilige Gees daardie liefde in Jesus se Naam te aanvaar en dit in ons verhoudings met ander uit te leef. Amen