Ons behoefte om te bid - 9 Mei 2017
Neville Turley
Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. Psalm 61:2
Die behoefte om gereeld te bid is nie net tot Christene beperk nie. Mense orals het 'n begeerte tot aanbidding en gebed. Dit is die een ding wat volgelinge van die grootste gelowe in gemeen het. In elke aspek van dogma behalwe dat hulle glo dat daar 'n God is, is hulle gelowe en tradisies onversoenbaar.
Volgelinge van Islam bid vyf keer per dag. Jode word geleer om oggend, middag en aand te bid. Die Bybel leer Christene om sonder ophou te bid en om aan te hou bid.
Johannes Calvyn, die 16de-eeuse hervormer, verwys na die goddelike vonk in ons almal wat maak dat ons na God wil uitreik. En dit kan ons slegs deur die krag van gebed doen.
Ons Here Jesus Christus openbaar God se goddelike plan vir die mensdom aan ons: “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak." (Matteus 11:27)
Jesus leer ons dat ons Skepper 'n Persoon is. 'n Vader wat sy kinders liefhet, verstaan en in hulle behoeftes voorsien. Geloof in Jesus, die Rots van verlossing, is absoluut noodsaaklik wanneer ons bid.
Deur Hom het ons direkte toegang tot God die Vader. Want Jesus het ons sondes op Hom geneem en sy lewe vir ons gegee sodat ons weer in 'n regte verhouding met ons hemelse Vader kan staan.
Soms, is ons gedagtes egter so deurmekaar dat ons nie woorde het om te bid nie. Wanneer dit gebeur, neem die Heilige Gees oor en pleit namens ons by God in ooreenstemming met sy wil. Hoe geseënd is ons nie dat die Allerhoogste Drie-enige God altyd gereed is om die gebede van diegene wat tot Hom bid, te beantwoord.
Gebed: Almagtige God, gee dat ons deur ons gebedslewe krag sal ontvang. Help ons deur die Heilige Gees om deur Jesus Christus in gemeenskap met U te leef. Amen