Leer van Jesus - 10 Mei 2017
Neville Turley
Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Matteus 6:6
Jesus het mense deur sy voorbeeld geleer. Dit het nie saak gemaak hoe besig Hy was nie, Hy was altyd in noue kontak met sy Vader in die hemel. Selfs toe Hy baie besig en gewild was, het Hy tyd gemaak om te bid. "Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na 'n eensame plek en daar gebid." (Markus 1:35)
Die Evangelies getuig dat regdeur sy bediening op aarde, Jesus tyd gemaak het om Hom af te sonder om alleen met God te verkeer.
"In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God." (Lukas 6:12)
"Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen." (Matteus 14:23)
"Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” (Matteus 26:36)
Jesus het 'n openbare bediening gehad, maar Hy het altyd tyd gevind om alleen te bid. In ons vers vir die dag, moedig Hy ons aan om dieselfde te doen.
Vir ons gebede om vir God aanvaarbaar te wees, moet ons Hom nader sonder dinge wat ons aandag aftrek en moet ons sy wil soek in 'n gees van nederigheid en diepe berou. Ons moet werklik ons sondes bely. Dikwels is mense baie jammer oor iets wat hulle verkeerd gedoen het. Berou in die bybelse sin is egter baie dieper as om net oppervlakkig te sê jy is jammer.
Ware berou beteken dat ons wegdraai van ons sondes en ons tot God keer vir vergifnis.
Die maak nie saak wat ons gedoen het nie en dat daardie ding wat ons verkeerd gedoen het miskien nie meer reggestel kan word nie. Die Here wil nie dat enigiemand vergaan nie, maar wel dat ons ons sondes moet bely. Wanneer 'n mens sy sondes bely, onthou God nie meer daardie sondes nie en selfs die engele in die hemel sing van blydskap.
Gebed: Here, dankie vir die genade dat ware berou vir ons vergifnis bring en dat ons die gawe van die Heilige Gees deur Jesus Christus kan ontvang. Amen