Hoe moet ons bid - 11 Mei 2017
Neville Turley
Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Efesiërs 6:18
Ons God is 24 uur 'n dag, sewe dae van die week vir ons beskikbaar. Daardie bybelse versekering kan egter daartoe aanleiding gee dat ons God as vanselfsprekend aanvaar en dat ons ons gebedslewe verwaarloos. Om in noue kontak met God te kan bly, is 'n gedissiplineerde gebedslewe nodig.
Baie van ons ly 'n besige lewe en dit is 'n stryd om alles wat ons moet doen in ons daaglikse program in te pas. Nie een van ons behoort egter so besig te wees dat ons ons gebedslewe agterweë laat nie. Biskop Bertram Pollock (1863-1943) het in sy beplanning spesifieke tye vir gebed ingeruim en hy het streng daarby gehou. Aan almal wat hom op daardie tye besoek het, is gesê: "Jammer, die biskop het 'n afspraak met God."
Aangesien God die eerste prioriteit in ons lewens moet wees, behoort ons nie 'n vasgestelde tyd daar te stel om met Hom te gesels nie?
Dit maak nie saak watter tyd jy kies nie. Jesus het in die oggend, gedurende die dag en in die nag gebid. Verder maak dit ook nie saak of ons kniel, staan of lê wanneer ons bid nie. Jesus het in al hierdie posisies gebid. Wanneer, hoe of waar ons bid is nie werklik belangrik nie. Ons gebede mag lank of kort skietgebedjies wees. Wat wel belangrik is, is dat ons ons harte ernstig en opreg en sonder skynheiligheid vir God oopmaak. (Matteus 6:5) Die Here weet wat in jou hart is, maar Hy wil dit by jou hoor.
Ons vers vir vandag spoor ons aan om by elke geleentheid deur die Gees te bid. Ons enigste weg na God is deur Jesus. "Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader." (Efesiërs 2:18)
Deur God se genade kan Christene deur die Gees in Jesus se Naam tot die Vader bid. Ons kan die genadetroon met vertroue nader, want ons weet dat die God van hemel en aarde 'n liefdevolle Vader is wat sy volle aandag aan elkeen van ons se gebede gee.
Gebed: Hemelse Vader, seën elkeen van ons. Gee dat die vrug van die Gees ons lewens sal verryk en gee aan ons die krag om u liefde deur Jesus Christus ons Here, met ander te deel. Amen