Gebede werk - 12 Mei 2017
Neville Turley
Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.” 1 Petrus 3:12
Regoor die wêreld kan miljoene Christene getuig hoe God hulle spesifieke gebede beantwoord het.
Werk gebed vir jou? Indien nie, moet jy jouself afvra hoekom nie!
Een feit wat ons nooit uit die oog moet verloor nie is dat ons Vader se liefde geen grense ken nie. Ons mag miskien in ons gebede onwetend pleit vir iets wat uiteindelik skadelik vir ons of ander sal wees. Die alwetende God sal nie so 'n gebed verhoor nie.
Hy dra altyd ons beste belange op die hart. Selfs al leef ons in 'n gevalle wêreld wat boos en korrup is, sal ons Vader nie toelaat dat die duiwel triomfeer nie. Job getuig daarvan.
Die boek Job is uniek aangesien dit soos 'n drama lees. In die proloog word Job as 'n vroom man beskryf, baie ryk en geseën met 'n gelukkige gesin. Daar gebeur egter 'n reeks tragedies wat sy idilliese bestaan laat verbrokkel. Deur die aanval van Satan verloor Job sy gesin, sy gesondheid en sy rykdom.
Job pleit by God. Sy vriende probeer ook tevergeefs help. Job word kwaad. "Help my om te verstaan, dan sal ek stilbly, sê my waar ek verkeerd gedoen het." (Job 6:24)
Die Here antwoord Job deur aan hom 'n hele paar vrae te stel, onder andere “Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom?" "Weet jy hoe die hemelliggame werk? Stel jy hulle invloed op die aarde vas?" Job besef hoe arrogant en selfgeregtig hy was.
Sy gebede met hulle lys van klagtes en selfgeregtigheid verander in 'n kragtige gebed waarin hy sy sondes bely en God verheerlik. (Job 42:1-6) Job word herstel tot 'n posisie van hoë aansien en word weer met 'n gesin geseën. Sy rykdom verdubbel en hy is 'n lang lewe gegun.
Werk gebed vir ons? Absoluut, op voorwaarde dat Christene onthou dat die sleutel tot effektiewe gebed is dat ons net deur geloof in Jesus tot God kan nader en dat ons ons voor Hom moet verootmoedig en Hom volkome moet vertrou.
Gebed: Hemelse Vader, leer ons hoe om U elke dag meer te verheerlik. Dit bid ons in die Naam van Jesus. Amen