Gebed deur die woord - 15 Mei 2017
Neville Turley
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. 2 Timoteus 3:16-17
Die antwoorde op baie vrae waarna Christene angstig in hulle gebede soek, is reeds beskikbaar in die Bybel.
Martin Luther het baie jare spandeer deur met behulp van die Bybel te mediteer en te bid. Die vraag wat hom diep gekwel het, was wat moet 'n mens doen om geregverdig voor God te wees?
In sy soeke na 'n antwoord het hy alles probeer. Hy het nagte op 'n koue vloer in gebed deurgebring en trappe in Rome op sy knieë uitgeklim terwyl hy gebid het. En tog het die antwoord hom steeds ontwyk en hy het nie vrede in sy siel gehad nie.
En toe eendag terwyl hy in gebed oor Romeine 1:17 gemediteer het, het die Heilige Gees die hart van die evangelie aan hom geopenbaar. Luther het besef dat ons nie deur ons eie geregtigheid vrygespreek word nie, maar slegs vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (Romeine 3: 23-24)
'n Genadige God spreek ons vry slegs deur geloof in Jesus Christus. Dit was Martin Luther se Damaskus-oomblik. "When I discovered that, I was born again of the Holy Ghost. And the doors of paradise swung open and I walked through.” (Sproul, RC: Luther and the Reformation)
Martin Luther se ervaring van die wedergeboorte beklemtoon die noodsaaklike rol van God in ons gebedslewe. Ons moet geanker wees in die Bybel. Ons kan dit doen deur gedurende ons gebedstyd die Bybel te lees en daaroor na te dink.
'n Goeie manier om die Bybel sistematies te lees, is om 'n Bybelleesrooster te volg. Die Bybelgneootskap maak een beskikbaar. Besoek hulle webwerf www.bybelgenootskap.co.za en laai dit gratis af.
Gebed: Almagtige God, ons loof en prys U. Dankie vir u Seun en vir die werk van die Heilige Gees. Help ons om dit wat reg is in u oë te doen. Dit bid ons in die Naam van Hom wat vir ons gesterf het. Amen