Verhaal van twee liedere - 16 Mei 2017
Neville Turley
“Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Hebreërs 13:5
Dit is nie goed vir enigeen om alleen deur die lewe te gaan nie. Nie een van ons is geskape om in isolasie, sonder enige menslike kontak, te leef nie. Die mens is 'n sosiale dier. Ons verlang na geselskap, selfs al wil ons dit nie altyd erken nie.
Dit verduidelik die gewildheid van die immergroen lied ‑ “You’ll never walk alone” wat Rodgers en Hammerstein vir die musiekblyspel "Carousel" gekompeneer het.
Dit is reeds vir baie jare die temalied van Liverpool Sokkerklub. 'n Mens kan ook nie help om diep geroer te word wanneer 50 000 toeskouers in 'n volgepakte stadion uit volle bors sing dat wat ookal gebeur, hulle mekaar het en nooit alleen hoef te wees nie.
Die lied is 'n baie mooi uitdrukking van solidariteit. Ongelukkig, aan die einde van die wedstryd gaan die toeskouers huis toe en die eensames is steeds alleen.
Dit is tragies, maar baie Christene is bitter alleen. Dikwels deur omstandighede buite hulle beheer bevind hulle hulself in eensame omstandighede.
Dit is wanneer ons moet vashou aan die belofte van ons Verlosser ‑ “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Die bekende lied, “I’ll walk with God” wat Brodsky and Webster vir die "Student Prince" geskryf het en deur die bekende tenoor, Mario Lanza gesing is, vertel aan ons hoe om eensaamheid te beveg. Lees gerus die pragtige woorde hier onder.
I’ll walk with God
I’ll take his hand
I’ll talk with God, he’ll understand.
I’ll pray to him
Each day to him
And he’ll hear the words that I say
His hands will guide my throne and rod
And I’ll never walk alone
While I walk with God.
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir u liefde en vir die versekering van u Seun en die Heilige Gees dat ons nooit alleen is nie. Skenk aan ons die genade om in geloof te wandel tot eer van u Naam. Amen