Kyk na binne - 17 Mei 2017
Neville Turley
Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer. Psalm 119:59
Dit is belangrik dat ons as kinders van God gereeld krities na onsself moet kyk. Deur ons sondes te bely, in Jesus te glo en deur die doop met water en die Heilige Gees is ons verlos. Dit beteken egter nie dat ons nou volmaakte mense geword het nie. Ons het steeds ons gevalle menslike aard waarmee ons rekening moet hou.
Ons moet ons geestelike toestand in die indringende soeklig van die Bybel ondersoek. Die eerste reël van selfondersoek is om heeltemal eerlik te wees. Ons moet getrou aan onsself wees.
Het ons die Here so lief as wat ons Hom behoort lief te hê? Het ons ons naaste so lief soos onsself? Is ons soms hiperkrities teenoor ons broers en susters in Christus? Soms verwag ons meer van ons medegelowiges as wat ons van onsself verwag. Die Here het Hom sterk teen so 'n houding uitgespreek.
“Waarom sien jy die splinter raak in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Jy wat die balk in jou eie oog nie raaksien nie, hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Broer, laat my toe om die splinter in jou oog uit te haal’? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter in jou broer se oog uit te haal.” (Lukas 6:41-42)
Ons behoort ons gedrag teenoor ander aan die vrugte van die Gees te meet ‑ liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Soos ons ons tekortkominge identifiseer, behoort ons dit voor God te bely en om vergifnis in Jesus se Naam te bid.
Dit maak nie saak hoe groot ons sonde is nie, in die Bybel vind ons die belofte dat ons sondes vergewe sal word.
Deur die Heilige Gees en sy Woord, praat God met ons in gebed en ons moet luister. Gebed is nie net 'n geleentheid vir ons om vir God te vertel wat ons wil hê nie, maar dit is ook 'n geleentheid vir God om vir ons te vertel wat Hy van ons verlang.
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die gawe van selfondersoek. Gee dat die Heilige Gees aan ons die krag en leiding sal gee om U meer getrou te volg. In die Naam van Jesus bid ons dit. Amen