Ons Vader - 18 Mei 2017
Neville Turley
Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” Lukas 11:1
Jesus het gehoor gegee aan hierdie versoek en die gebed wat ons ken as die "Ons Vader" het die gebed geword wat die meeste deur Christene gebid word. Van geslag tot geslag leer mense dit uit die kop en verskyn dit in druk.
Die rede hoekom die "Ons Vader" so 'n impak op so baie lewens het, is omdat dit verduidelik hoe Jesus se volgelinge tot die almagtige Skepper behoort te bid.
Die gewildheid van die "Ons Vader" is egter rede tot gevaar. Die gesegde, "goed bekend, sleg geëerd", is baie waar. Ons kan so gewoond raak aan iets wat dikwels herhaal word dat dit geen betekenis meer vir ons inhou nie. Ongelukkig kan dit ook van die "Ons Vader" gesê word.
Om na God as die Vader te verwys, is ook nie uniek aan die Nuwe Testament nie. In die Psalms word Hy beskryf as "'n Vader vir weeskinders". Jesaja skryf oor die "Ewige Vader" en Maleagi sê: "Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep!"
Jesus gee egter 'n heeltemal nuwe dimensie aan die vaderskap van God. “Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?" (Matteus 7:9-11)
Deur die "Ons Vader" stel Jesus ons voor aan ons eie Vader wat omgee en ons liefhet en wat altyd gereed is om ons met sy gawes te seën.
Gebed: Dierbare God, ons Vader, dankie vir u wonderbare liefde, vir die offer van u Seun en vir die gawe van die Heilige Gees. Skenk aan ons die vermoë om die erfenis wat ons deur Jesus Christus ontvang het, waardig te wees. Amen