Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 26 Januarie

HUIDIGE REEKS: “Hoe of hoekom om te...”
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 12: HOE of HOEKOM OM DIE OKKULT TE VERMY? (DEEL 6)
Deur: Benescke Botha
DEEL 6: KAN GOD DEUR DROME MET MY PRAAT?
Abraham, Salomo en Josef, Elias Howe en Abraham Lincoln.
God het in al hierdie mans hier bo se lewens met hulle deur drome gekommunikeer. In Abraham se lewe het God die verbond van ’n nageslag met hom in ’n droom gesluit. Vir Salomo het God die bonatuurlike gawe van wysheid in ’n droom gegee. Vir Josef het God iets van die toekoms geopenbaar lank voordat dit ’n werklikheid geword het. Elias Howe het die ontwerp van die Singer-naaimasjien in ’n droom gekry en die voormalige Amerikaanse president, Abraham Lincoln het 13 dae voor sy slypmoord ’n droom daaroor gehad, maar niks daaraan gedoen nie.
PRAAT GOD MET ONS DEUR DROME?
· Ja. Regdeur die Bybel word daar ongeveer 200 keer na drome verwys. Vir interessantheid: As al die drome en visioene uit die Bybel (en die stories en aksies wat daaruit voortgevloei het) bymekaar gesit word, beslaan dit ’n  derde van die Bybel.
· Joel 2:28: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense sal drome droom en julle jongelinge sal gesigte sien.” (1953-vertaling).
DRIE BRONNE VIR JOU DROME?
· Al ons drome kom óf van die Heilige Gees, óf uit onsself óf van ’n bose gees.
· Hoe om te onderskei:
o Heilige Gees: As ’n droom van die Heilige Gees af kom, sal dit altyd in ooreenstemming met die Woord en karakter van God wees.
o Self: As jy byvoorbeeld heeldag gelê en gholf kyk het en van gholf droom of as jy baie bekommerd is oor iets en daaroor droom kom dit uit jou eie onderbewussyn. Laasgenoemde kan as ’n boodskap gesien word dat jy te veel stres oor ’n situasie en dat jy jou fokus terug op God moet plaas.
o Demonies: As die droom demonies van aard is, het jy moontlik iewers ’n deur vir die bose oopgemaak wat aan die vyand toestemming gegee het om inspraak in jou lewe (en drome) te hê. Jy kan dit weer in die Naam van Jesus Christus toemaak.
BELANGRIK OM TE ONTHOU:
· Net die Heilige Gees gee die uitleg: Geen mens kan sonder die Heilige Gees ’n droom uitlê nie.
· Hoekom is drome meestal simbolies? Die doel met die simboliek in drome is dat ons God sal nader om die interpretasie van die droom van Hom te verkry. Hy wil dit vir ons gee.
· Soek die sleutel: Om die sleutel in die droom op te spoor, moet jy soveel moontlik detail so gou moontlik na die droom neerskryf. Byvoorbeeld: Waar was jy in jou droom? Hoe het jy in die droom gevoel (bang of bly)? Wat of wie het jy gesien (mense, maar ook kleure, motors, ensovoorts)? Hierdie inligting word later die sleutels om die boodskap agter jou droom te verstaan.
o VOORBEELD: Dink aan die droom wat Josef in Egipte vir die Farao uitgelê het. Die koning het gedroom dat sewe vet koeie langs die rivier staan en eet toe die sewe maer, uitgehongerde koeie daar opdaag en die vet koeie begin eet. Na die tyd het die maer koeie net so maer gebly (Genesis 41:1-36).
§ Sleutel in Farao se droom: Die sewe vet koeie en die sewe maer koeie.
§ Uitleg van sy droom: God het die Farao voorberei op die eers sewe goeie jare in Egipte, gevolg deur die sewe jaar van hongersnood. In die eerste sewe jaar moes hulle genoeg kos bymekaarmaak om die hongersnood te oorleef.
· Droom-woordeboek: Daar is verskeie droom-woordeboeke op die mark wat die sleutels (byvoorbeeld: ’n huis met drie verdiepings, ’n rooi kar, trappe, ensovoorts) met die interpretasie lys. Maak egter seker dat die skrywer van die boek werklik sy of haar interpretasie van die Heilige Gees ontvang het (vind onderaan die stuk ’n aanbevole droom-woordeboek).
PRAKTIESE RIGLYNE OM JOU DROME BETER TE VERSTAAN:
In hulle boek Hear God Through Your Dream gee Mark and Patti Virkler vyf wenke wat mens kan help om jou drome beter te onthou:
1) STAP 1: Sê vir jouself dat jy glo dat drome betekenis inhou. Dit oortuig jou brein om jou te help om jou drome te onthou.
2) STAP 2: Vra God om met jou in drome te praat voordat jy aan die slaap raak.
3) STAP 3: Sit ’n joernaal langs jou bed sodat jy jou droom dadelik kan neerskryf sou jy na ’n droom wakker word.
4) STAP 4: Kry agt ure slaap in. Só is die laaste uur droomtyd.
5) STAP 5: Probeer natuurlik wakker word. ’n Alarm verbreek drome.
Omdat God alles van ons af weet en ook ons toekoms ken, wil Hy daagliks met ons kommunikeer en ons van aankomende gevaar waarsku. In menigte gevalle gebruik Hy drome as ’n manier om met ons te kommunikeer. Is jy daarop ingestel of mis jy daardie boodskappe? Waarom trek jy nie van vandag af ’n droomjoernaal neer sodat jy jou drome kan begin neerskryf nie! Sterkte.
Vader God, baie dankie dat U met my wil praat deur drome. Lei my asseblief deur u Heilige Gees om nie hierdie boodskappe te mis nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

VIR MEER INLIGTING: Vir meer vrae oor jou drome en om ’n droom-woordeboek te bekom, kontak gerus vir Martin en Letitia van der Merwe by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Hier is hulle webwerf: http://www.kwikwap.co.za/rua/wmenu.php.

**Benescke Botha is ’n radio-aanbieder en vryskutskrywer vir verskeie geestelike en inspirasietydskrifte
Previous article: Vers-n-dag - 27 Januarie Prev Next article: Vers-n-dag - 25 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.