Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 27 Januarie

HUIDIGE REEKS: “Hoe of hoekom om te...”
NEEM DEEL: Het jy spesifieke temas waaroor jy graag meer wil lees, stuur gerus ’n epos aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

DAG 13: HOE of HOEKOM OM DIE OKKULT TE VERMY? (DEEL 7 van 7)
Deur: Benescke Botha
<Ter agtergrond: Oor die afgelope paar dae het ek hordes eposse van ouers ontvang wat my gevra het om iets oor die gevaar van sommige musiek op jongmense te skryf. Ek eindig dus hierdie huidige reeks oor die okkulte af met die tema: “Het musiek werklik ’n invloed op my lewe?” Ek skryf hierdie stuk met die hulp van Helene en Pieter Theron wat reeds vir die afgelope 16 jaar lank in die area van bevryding werk.>
DEEL 7: HET MUSIEK WERKLIK ’n INVLOED OP MY LEWE?
18 Augustus 2008. Vir die skoolseuns van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs op Krugersdorp het hierdie dag as ’n doodgewone skooldag begin. Minute nadat die skoolklok die oggend gelui het, het Morné Harmse ’n masker soortgelyk aan dié van die sataniese musiekgroep, Slipknot uit sy tas gehaal, die Oosterse-swaard uit sy skede getrek en die 16-jarige Jacques Pretorius se lewe beëindig.
In ’n video-onderhoud na die voorval het Stephan Bouwer, ’n leerder wat amper ook onder Harmse se swaard deurgeloop het vertel hoe Harmse tydens die aanval in ’n “vreemde bose stem” met hulle gepraat het. Toe Morné eindelik die masker afgehaal het, het hy verbaas teruggekyk met die woorde: “Het ek dit gedoen?” En in ’n ope-brief aan die Pretorius-gesin na die voorval het Morné se ouers geskryf dat hulle geweldig jammer is. Hulle het gesê dat Morné die voorval soos volg beskryf het: “Toe ek die masker aansit, het alles doodstil geword en my liggaam het begin beweeg. Ek wou stop, maar ek kon nie.”
Vandag dien Harmse ’n 20 jaar vonnis in die tronk uit en die Pretorius-gesin moet leer om met die seer gekoppel aan die verlies van ’n kind saam te leef. Dit laat mens wonder: Hoe anders sou dinge uitgedraai het as Morné Harmse nooit na die heavy metal musiek begin luister het nie?
IS DAAR ’n GEVAAR IN MUSIEK?
· Wat sê van die heavy metal musikante?
o Jimmy Hendrix het gesê: “Atmospheres are going to come through music, because music is a spiritual thing on its own. You can hypnotize people with music and when you get them at their weakest point, you can preach into their minds whatever you want to say.”
o Agterop een van Venom se plate staan geskryf: “We are possessed by all that is evil. The death of your God we demand. We spit at the virgin Mary and sit at Lord Satan’s left hand.”
o Tydens ’n onderhoud (na Morné Harmse se swaard-aanval) het Shawn Crahan, een van die lede van die Amerikaanse heavy metal groep, Slipnot, gesê dat dinge nou “minder fisies gewelddadig en meer geestelik gewelddadig” as vroeër raak.
· Wat is die fokus van heavy metal musiek? Die fokus van heavy metal musiekis meestal dwelms, selfmoord, aggressie, seks en die okkulte. Dit adverteer ook wetteloosheid en vryheid van seks en dwelms. Op omslae verskyn kruisigingstonele waarmee die spot gedryf word, swart kerse, skedels, pentagramme en die 666-teken.
· Gevaar van die musiek: Musiek is ’n magtige wapens in die hand van die satan. Met tyd word jongmense totaal gebreinspoel sodat hulle nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie. Só kry die satan ’n houvas op jongmense.
· Hoe om te onderskei: Nie alle tieners wat na heavy metal luister is sataniste nie! Maar alle sataniste luister wel na heavy metal musiek. Om te onderskei of die musiek waarna jou kind luister potensiële gevaar inhou, vra jouself af: 1) Sal jy Jesus Christus saam met jou na die musiek laat luister? 2) Is dit godslasterlik en spot dit met al wat heilig is?
VIR WIE EN WAARVOOR MOET JY LIG LOOP?
· Jy sal min sataniste vind wat nie Iron Maiden se musiek het nie. Marilyn Manson beskryf homself as die high priest of evil. Metallica se musiek maak tieners gewoonlik aggressief en vol rebellie. Die groep Black Sabbath doen in sommige van hulle liedere bekeringsoproepe tot satan. By sommige konserte word daar gereeld mense na vore geroep wat hulle siele dan vir die satan gee! Fleetwood Mac dra hul konserte aan die hekse van die wêreld op. Nog ander om voor lig te loop: AC/DC, Twisted Sister, Ozzy Osbourne, Slayer, Offspring, Slipknot, Black Sabbath, Meatloaf, Korn, Pantera en nog baie meer.
· Musiek en satanisme: Baie van hierdie musiekgroepe het reeds in die vroeë 80’s hulle openlik met die satan begin assosieer. Hulle het okkultiese rituele op die verhoog begin uitvoer en voor almal die satan aanbid. Satan is die hoof van hierdie musiek en die sangers en musikante sy dissipels wat hom openlik aanbid en ook duisende jongmense leer om dieselfde te doen by hulle feeste.
· Effek van blootstelling aan verkeerde musiek: Frank Garlock, ’n professor in musiek, het in sy boek The big beat gesê dat hierdie soort musiek neurotiese gedrag en tiener-rebellie bevorder. Hy sê ook dat in die lig van die samestelling van die musiek deur byvoorbeeld herhaling, gebrek aan melodie, ondertone, onnatuurlike aksente en gebroke ritme, dit geen wonder is dat jeugdiges begin skreeu, ruk en selfs flou val nie.
EFFEK VAN LOFPRYSING TOT GOD:
· Wanneer jy God loof en prys fokus jy jou aandag op Hom. Jy kyk weg van jou probleem en jy nooit Hom in jou lewe en situasie in:
o Psalm 22:4: “U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!”
· Wanneer jy God loof en prys skep jy ’n atmosfeer waarin wonderwerke kan gebeur:
o Paulus en Silas se tronkdeure het oopgegaan terwyl hulle God geprys het waar hulle in aanhouding was omdat hulle die evangelie van Jesus Christus verkondig het (Handelinge 16:19-40).
o Koning Josafat en die Israeliete het ervaar hoe God namens hulle veg en die oorwinning behaal, toe hulle aangehou het om God te loof en te prys (2 Kronieke 20:2).
Sit jy vandag in ’n situasie wat soos ’n berg voor jou voel? Kan ek jou aanmoedig om soos Paulus en Silas en ook soos koning Josafat en die Israeliete te kies om God te midde van jou storm te loof en te prys. Jy sal verbaas staan oor hoe God ook jou deurbraak kan bewerkstellig! Sterkte.
Vader God, baie dankie vir die krag wat daar in lofprysing en aanbidding lê. Help my asseblief om vandag doelbewus te kies om U te loof en te prys te midde van my storm. Maak my ook sensitief om die vyand se misleiding te herken. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
**Benescke Botha is ’n radio-aanbieder en vryskutskrywer vir verskeie geestelike en inspirasietydskrifte
Previous article: Vers-n-dag - 28 Januarie Prev Next article: Vers-n-dag - 26 Januarie Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.