Wandel met God en wees dapper: Ester - 14 Junie 2017
Louise Gevers
As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Ester 4:14
Hierdie boeiende en tog skrikwekkende woorde, word gevind in die boek in die Bybel waar die Naam van God nie genoem word nie, en is een van slegs twee boeke in die Bybel wat na 'n vrou vernoem is. En tog is dit 'n wonderlike weergawe van hoe God op 'n wonderbaarlike wyse gewerk het om die lewens van sy kinders te red. God inspireer Ester deur geloof om, met die hulp van haar neef Mordegai wat haar na die dood van haar ouers as sy eie dogter grootgemaak het, die uitdagings wat hulle in die gesig staar te gebruik om die bose te oorkom.
Lees hierdie boeiende boek vir jouself en sien hoe God deur Ester se dapperheid en wysheid gewerk het. Ester, 'n jong, mooi Jodin met 'n pragtige karakter, wen die hart van koning Ahasveros van Persië en hy maak haar sy koningin. Sy word egter nie hoogmoedig en trots en vergeet haar identiteit nie. Toe sy van Haman se plan hoor om die Jode te vernietig, ondersteun sy haar mense en is meer oor hulle besorg as oor haar eie veiligheid. Sy volg Mordegai se raad en gebruik haar koninklike posisie ten goede.
Met die dreigement van die doodstraf wat oor haar hang, berei Ester haar versigtig voor om teen die wet die koning sonder dat sy ontbied is, te nader om vir haar mense voorspraak te doen. Sy het drie dae gevas, en sy het die Jode gevra om dit ook te doen en sodoende te bewys dat hulle almal om God se verlossing pleit. “Gaan maak al die Jode wat in Susan is, bymekaar en vas ter wille van my. Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” (Ester 4:16)
Danksy God se genade het sy nie omgekom nie. Ester het die koning se guns gewen en hy het sy goue septer na haar uitgesteek; en Haman, die vyand van die Jode, is op dieselfde dag wat hy beplan het om die Jode dood te maak, gehang. "Die Here julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg, om julle die oorwinning te laat behaal.’ (Deuteronomium 20:4)
Ester se dapperheid en geloof praat steeds met ons in ons wêreld van vandag, waar die Here ons beveel om ander lief te hê soos onsself, om te wys dat Hy by ons is en om namens diegene in nood, ongeag ouderdom, geslag, ras of kultuur, op te tree teen die ongeregtighede wat die samelewing mense aandoen.
Sal jy gehoor gee aan sy roepstem?
Gebed: Hemelse Vader, ek besef dat U soms op 'n goddelike en wonderbaarlike manier gebeure in ons lewens vir die goeie kan verander. Help my om, soos Ester, die doel vir my bestaan in hierdie wêreld te vind en om versigtig, gedissiplineerd en dapper u volmaakte wil vir my lewe uit te voer. Amen