Wandel met God met integriteit: Hanna - 15 Junie 2017
Louise Gevers
Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil. 1 Samuel 1:10
Begin met Sara, sluit die ander vroue in die Bybel in wat probleme ondervind het om 'n kindjie te verwag, en voeg dan die name by van diegene wat hulle vandag in dieselfde situasie bevind, en jy sal dadelik besef dat onvrugbaarheid reeds vir eeue 'n probleem is wat vroue ondervind. Vandag het baie mense toegang tot vrugbaarheidsbehandeling wat ongelukkig nie altyd sukses waarborg nie, en mislukking kan lei tot hartseer, desperaatheid en selfs egskeiding.
Die beskrywing van Hanna in ons teksvers dui op iemand met 'n gebroke gees wat baie ly. Sy het haar reeds in die onbenydenswaardige posisie bevind om een van twee vroue te wees, en alhoewel Elkana haar die meeste liefgehad het, was sy verskriklik ongelukkig omdat sy nie 'n kind kon hê nie. Wat die saak vererger het, was dat die ander vrou reeds seuns en dogters by Elkana gehad het. Wanneer hulle gaan aanbid het, het Peninna haar genadeloos gespot en geterg totdat sy begin huil het en nie wou eet nie.
Maar Hanna het die Here vertrou en geglo dat Hy haar gebed sou verhoor. So, al huilend het sy haar angs voor God bely: "Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” (1 Samuel 1:11)
Dit was geen geringe belofte vir enige ma om te maak nie, maar vir Hanna was God heilig, daar was niemand soos Hy nie en Hy was die Rots van Israel. (2 Samuel 2:2) Haar gebed was onselfsugtig en volgens die wil van God. Sy het haar probleem by Hom gelaat en vol vreugde by die ander aangesluit.
Toe Samuel gebore is, het sy nie haar belofte verbreek nie, maar nadat sy hom gespeen het, het sy hom weggebring en aan die Here vir lewenslange diens aangebied. Deur hierdie daad het sy in werklikheid haar hart vir die Here gegee. "Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.” (1 Samuel 1:27-28) Watter wonderlike blydskap het Hanna nie, danksy haar geloof en integriteit, ontvang nie.
Onvrugbaarheid in enige vorm lei tot hartseer want dit is eintlik 'n staat van onvervulling wat nie maklik geïgnoreer kan word nie. Indien 'n mens misluk, kan vreugde bederf en ontwikkeling belemmer word en die onsensitiwiteit van ander kan soms ondraaglik wees. Maar Hanna se ondervinding is 'n bewys dat God 'n doel het met alles wat in ons lewens gebeur. Die feit dat Hanna se swangerskap vertraag is, het tot die voordeel van al die Here se kinders gelei, en haar pyn en sielsondersoek het haar gehelp om nader aan die Here te kom. Instede van om leeg te wees, het Hy haar lewe gevul met meer as waarvoor sy gevra het en sy het haar volkome aan Hom toegewy. In Spreuke 13:12 lees ons: "'n Verwagting wat nie uitkom nie, maak 'n mens mismoedig; 'n begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe."
Gebed: Liewe Vader, help my om u wil vir elke aspek van my lewe te vertrou, en gee dat ek U altyd volkome met liefde en integriteit sal dien. Amen