Wandel met God met integriteit: Josef - 19 Junie 2017
Louise Gevers
Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar 'n engel van die Here in 'n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Matteus 1:19-20
Die bostaande teks vertel ons drie dinge oor Josef, die man wat God uitverkies het om sy Seun se aardse vader te wees. Hy was 'n regverdige man, hy was bedagsaam en hy was ontvanklik vir God se leiding in sy lewe. Hierdie kwaliteite sou ook 'n positiewe invloed op Jesus se lewe gehad het. Wat hierdie teks nie van hom sê nie, is dat hy uit die stam van Dawid was.
Matteus se geslagsregister, "van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham" (Matteus 1:1) eindig met "Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word" (Matteus 1:16), is 'n fassinerende bewys van hoe God se plan en profesieë vervul is, en waar Josef inpas in sy belangrike rol as Jesus se aardse vader.
Die Bybel vertel ons dat toe "... Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. (Matteus 1:18) Ons begryp die implikasies ten volle en hoekom Maria se verduideliking vir Josef onverstaanbaar moes gewees het en hom na alle waarskynlikheid diep seergemaak het. Wie kan nou so iets glo? Hy het hom voorgeneem om die verlowing te verbreek want dit was nie sy kind wat Maria verwag het nie. Alhoewel hulle net verloof was, was dit volgens Joodse wette, 'n wettige kontrak wat slegs deur die dood of deur egskeiding verbreek kon word, en 'n egbreker kon gestenig word. Aangesien hy vir haar omgegee het, het hy besluit om die verlowing stilweg te verbreek en haar nie in die openbaar te verneder nie.
Toe het God ingegryp: 'n engel het aan Josef verskyn en bevestig dat Maria die waarheid gepraat het. Josef was vasbeslote om haar by te staan, ten spyte van 'n situasie waar hy ook beskuldig kon word. Die feit dat Josef ontvanklik was vir God was baie belangrik. Dit het hulle hierdie keer gered, en ook later toe Josef drie keer in drome 'n besoek van 'n engel ontvang het en elke keer het dit te make gehad met Jesus se veiligheid en welstand. Dit was veral duidelik toe hulle na Egipte moes vlug en weer met hulle terugkeer. (Matteus 2:13,19,22)
Uit Josef se integriteit en morele waardes wat hom gedring het om sy belofte aan Maria te hou en haar te midde van 'n dreigende skandaal te ondersteun, leer ons vandag steeds iets van die Here se besorgdheid en wil vir elke mens. As kinders van die Here moet ons ook met integriteit lewe en die waardigheid van ander onderhou.
Gebed: Heilige Vader, dankie dat U deur Josef se regverdigheid, sy opregtheid en betroubaarheid, vir ons leer net hoe belangrik die waarde van integriteit in u oë is. Help ons om die belangrikheid daarvan in ons lewens te erken. Help my om eerlik en opreg te leef en in alle omstandighede vir ander om te gee. Amen